MunicipalNews

Inwoners kan mening tydens vergaderings lug

“Bela-Bela-inwoners kla al vir jare oor dienslewering. Maar watter waarborg het inwoners dat hulle insette ernstig opgeneem sal word?”

Dié vraag is op Maandag 25 Maart in die Bela-Bela township tydens die eerste geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-vergadering van die Bela-Bela-munisipaliteit deur besorgde inwoners gevra.

Die jaarlikse GOP-openbaredeelname-prosesse bied ‘n uitstekende geleentheid aan munisipalitiete om aan belastingbetalers terugvoer te gee oor projekte wat aangepak is, asook inligting deur te gee oor verskeie uitdagings op plaaslike vlak. Dit is dié geleentheid waar inwoners op ’n gemeenskapsforum hul insette asook behoeftes met amptenare kan deel.

Hierdie wedersydse wisselwerking is van uiterste belang wanneer die munisipale begroting vir die 2019/2020 finansiële jaar opgestel word.

Tydens die voorlegging is tipiese diensleweringkwessies gedeel. Die vordering van kapitale- en infrastruktuur-projekte wat vir al die wyke beplan word, is ook bespreek.

Die volledige vorderingsverslag sal eers deur die burgemeester, Jeremiah Ngobeni, tydens openbare deelname vergaderings met die onderskeie wyke gedeel word.

Volgens Sello Michael Makhubela, munisipale bestuurder, is ’n kontrakteur steeds besig om die ou waterpype in die dorp met nuwe pype te vervang. Die projek sloer al lank en het baie inwoners die harnas in. Volgens die GOP-terugvoer is die projek nog ver van afgehandel.

Makhubela het gesê dat volgens die ooreenkoms met die kontrakteur, die munisipaliteit nie verantwoordelik is vir die herstel van pype sou daar tydens die projek ’n tegniese probleem ontstaan nie. In só geval moet die kontrakteur die foute herstel en die nodige gereedskap en onderdele beskikbaar hê vir noodinstandhouding. Die munisipaliteit sal volgens Makhubela weer beheer neem nadat die projek afgehandel is.

Die Pos het Makhubela gevra oor die munisipaliteit se afhanklikheid van diensverskaffers van buite die munisipaliteit se grense. Dié diensverskaffers moet onder meer noodsaaklike onderdele aan die munisipaliteit verskaf. Die noodherstelwerk van water-, krag- en rioolverbindings word dikwels vertraag omdat onderdele nie betyds gelewer word nie.

“In terme van die wet moet 30% van alle munisipale kontrakte aan plaaslike ondernemings uitgereik word. Maar sulke ondernemings moet eers op ’n munisipale databasis geregistreer word as ’n diensverskaffer, wat ons met vrymoedigheid vir ons sakelui aanraai om te doen,” het hy gesê.

“Ons is besig met planne om ’n sentrale munisipale stoorkamerfasiliteit op die been te bring waar al die nodige onderdele en voorraad in grootmaat gestoor sal word vir krisisbestuur. So ’n fasiliteit sal ons in staat stel om te alle tye onderdele en gereedskap beskikbaar te hê, maar op hierdie stadium het ons nog geen begroting of goedkeuring van die raad om dit te doen nie.”

  • Die GOP-vergadering tussen inwoners van Wyk 1 en die munisipaliteit vind op Woensdag 10 April om 18:00 by Laerskool Warmbad plaas. Inwoners word aangeraai om dié belangrike vergadering by te woon.

Related Articles

Back to top button