LettersOpinion

Menseregte by venster uitgegooi

Daar word gediskrimineer teen gelyke regte deur rasseverdeling en kwotas.

Karel Niewenhuis, Adjunk- Provinsiale Leier Vryheidsfront Plus, skryf:

Politici gebruik 21 Maart, Menseregtedag, om fluks onhaalbare beloftes te maak. En om die illusie te versterk dat die land beter daaraan toe is as onder die Apartheidsbeleid. Maar brandende bande en haatspraak so hard skree dat niemand meer kan hoor wat hulle sê nie.

Dis ironies om menseregte te vier in ’n land wat menseregte, soos in die Grondwet bepaal, skaamteloos verkrag word.

Landsburgers hoef nie ver te soek om bostaande uitspraak te staaf nie. Voorbeelde is te talryk om in enkele paragrawe op te som. Die onrusbarendste is die poging om eiendomsreg nietig te verklaar. ’n Maghonger regering is gewillig om hierdie reg, wat internasionaal erken word, op te offer in ’n poging om te oorleef.

Die Grondwet bepaal almal is geregtig op ’n omgewing wat nie nadelig vir hulle gesondheid is nie, vry van besoedeling en ekologiese agteruitgang. Maar in Modimolle is daar ’n langdurige geveg omdat bloed in die strate van die nywerheidsgebied afstootlik is en ’n gesondheidsgevaar inhou. Die bepaling in die Grondwet dat elke landsburger toegang tot water moet hê, sluit klaarblyklik nie mense op plekke soos Mafube en Gariep in nie. En in Modimolle, soos in talle ander dorpe en stede, het water uit ’n kraan ’n luukse geword. Afdeling 9 van die Grondwet waarborg die reg tot gelykheid.

Daar word egter gediskrimineer teen gelyke regte deur rasseverdeling en kwotas. Afdeling 31 van die Grondwet waarborg ’n eie kultuur- godsdiens- en taalgemeenskap. Maar ’n gemeenskap soos Orania wat hierdie reg uitleef, het die etiket van rassisme. Taalregte van Afrikaanssprekendes word in skole en universiteite geminag. Dieselfde kan gesê word van menslike waardigheid wanneer die haglike toestand van hospitale in ag geneem word. Miljarde rande se belastinggeld word gesteel of op luukses vermors terwyl subsidies vir kinderhuise ’n skandalige R17 per kind per dag beloop.

In die lig van hoe landsburgers se regte vertrap word, vervaag menseregte en word die Grondwet ’n dokument sonder tande. Die gaping tussen wat die Grondwet voorskryf en die werklikheid, maak die viering van Menseregtedag belaglik. Elke regdenkende landsburger vertrou dat die huidige regerende party in die komende verkiesing met dieselfde minagting behandel sal word as waarmee hulle landsburgers se menseregte behandel.

Eers wanneer die land regeer word deur bekwame, ervare en eerbare leiers, sal die stryd vir menseregte en menslike waardigheid tot ’n einde kom. Politici moet landsbelange dien en regte respekteer deur verantwoordelik met die Grondwet om te gaan. Wanneer dit die geval is, kan ons Menseregtedag met waardigheid vier en nie misbruik vir politieke gewin nie. Trek jou kruisie waar jy ’n verskil kan maak sodat daar geen gaping tussen menseregte en die praktyk is nie.

Related Articles

Back to top button