LettersOpinion

Stem vir party wat weer hoop vir mense gee

Werkloosheid is hemelhoog met 52% van die jeug wat werkloos is.

Karel Niewenhuis, Adjunk- Provinsiale Leier van die Vryheidsfront Plus, skryf:

Suid-Afrika het hoop nodig. Daar hang ’n skaduwee oor ons eie, maar veral ons kinders en kleinkinders se toekoms. Indien die verlede die beste voorspeller van die toekoms is, dan is die scenario een van onsekerheid.

Met die vyfde hoogste moordsyfer in die wêreld, vergelyk ons met lande wat tans in oorlog verkeer. Daar is ’n tekort van 62 000 polisiebeamptes. Korrupsie, onbekwaamheid en onuitvoerbare beleidsrigtings is op alle regeringsvlakke aan die orde van die dag.

Die afgelope vyf jaar het die land R470 miljard van die bruto binnelandse produk (BBP) verloor. Die staat moet elke dag R1.2 miljard leen om sy begrotingstekort aan te vul. Die rente op hierdie skuld beloop R209.4 miljard per jaar. Die belastingbetaler moet hiervoor opdok. Die 17 miljoen Suid-Afrikaners wat ’n maatskaplike toelaag kry, is meer as die mense wat werk het.

Werkloosheid is hemelhoog met 52% van die jeug wat werkloos is. Regstellende aksie, kwotas en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word afgedwing wanneer aanstellings gemaak word pleks van om kundigheid, vermoë en ervaring in ag te neem. Op plaaslike vlak is swak dienslewering byna ’n gegewe. Populisme en die donker wolk van onteiening van grond sonder vergoeding, vernietig landbou en voedselsekerheid.

Die grondwet bepaal dat alle bevolkingsgroepe verenig is in hulle diversiteit. Pleks daarvan word minderheidsgroepe as rassiste afgemaak bloot op velkleur. Rassisme het ’n gerieflike term geword om onbevoegdhede en mislukkings te verdoesel, om mense te straf vir onregte van die verlede. Niemand kan langer bekostig om hande gevou toe te kyk dat die regering met dubbelsinnighede wegkom nie. Almal het die reg om trots te wees op ’n eie identiteit, kultuur en waardes. Dit is die betekenis van eenheid in verskeidenheid.

Hoop word gebou op die herleef van deurleefde waardes soos integriteit en wedersydse respek. Dis net moontlik indien die mense in die land ’n nuwe visie kry. Elkeen behoort beheer te neem oor sy of haar toekoms en sodoende dié van die nageslag. Om die foute van die verlede te herhaal en op te blaas, gaan nie bydra tot ’n beter toekoms nie. Trek jou kruisie langs die party wat nie blind is vir die bankrotskap nie net op ekonomiese gebied nie, maar ook sosiaal-maatskaplik. En ’n party wat ’n plan het om hoop te laat herleef.

Related Articles

Back to top button