Local sportSport

Gewigoptellers wil Aussies ’n (swaar) les leer

Meestersgewigoptel is een van die ontluikende sportsoorte wat wêreldwyd die vinnigste groei — in sommige lande is dit reeds onder die topdrie sportsoorte.

Die spiere gaan eersdaag buite Modimolle bult wanneer Suid-Afrika en Australië se topgewigoptellers in die meestersklas mekaar die stryd aansê.

Die Suid-Afrikaanse meestersgewigoptel-federasie bied op Saterdag 13 April ’n internasionale kragmeting aan by Tsekama, net buite Modimolle. Dié internasionale toets is ’n opwindende nuutjie vir die dorp.

Bonneleigh Meijer en Koos Henning (regs), ’n plaaslike fiksheidsinstrukteur, is tydens die 2018 Suid-Afrikaanse meesterskampioenskap as die beste mans- en vrouegewigoptellers aangewys.

 

Meesters is mense wat 35 jaar en ouer is. Meestersgewigoptel is volgens Koos Henning, die voorsitter van die federasie en bekende fiksheidsinstrukteur in Modimolle, een van die ontluikende sportsoorte wat wêreldwyd die vinnigste groei — in sommige lande is dit reeds onder die topdrie sportsoorte.

Suid-Afrika se meestersgewigoptellers is volgens hom van topgehalte en tydens die wêreldkampioenskap in 2018 het Suid-Afrika ’n sewende plek uit 50 lande behaal. “Die kompetisie beloof om wêreldklas te wees en kry reeds internasionaal baie nuusdekking.” Henning, wat die afgelope drie jaar as die beste manlike meestersgewigopteller in die land aangewys is, neem ook deel.

Australië stuur ’n mans- en vrouespan van vyf lede elk. Suid-Afrika sal ’n A- én B-span in beide die mans- en vroue-afdeling inskryf en elke span bestaan ook uit vyf lede.

“Tydens gewigoptel in die meestersklas word formules gebruik om deelnemers se liggaamsgewig, sowel as ouderdom, met die punteberekening in ag te neem. Die wenner is die een wat volgens hierdie formule die meeste punte kry,” het Henning verduidelik.

Hy het gesê dat Suid-Afrika van die wêreld se beste meestersgewigoptellers het. “Ons beste vrouedeelnemer is die wêreldkampioen, Corien Potgieter. Sy is ’n veelsydige sportvrou wat bekendheid verwerf het deur die Suid-Afrikaanse hekkiesrekord vir 20 jaar te hou!”

Fikses wat by die dag betrokke wil wees, kan deelneem aan die 2 km hindernisresies deur die veld wat ook plaasvind. Spanne met vier lede, waarvan ten minste twee vroue is, kan inskryf. Enigeen is welkom.

Belangstellendes kan vir Henning bel by tel. 082 453 4294 of vir Marna Schmidt by tel. 082 505 5196.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button