Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Na ’n heerlike reënbui op Dinsdag 12 Maart het Rina Kruger, jarelange inwoner van Vaalwater, die klompie varke voor haar huis in Jarrisstraat afgeneem. Hul het kom baljaar in die slaggate wat met water en modder gevul was. Die varke is afkomstig van ’n varkboerdery in uitbreiding 4. Hoewel Kruger al verskeie klagtes by die munisipaliteit ingedien het, het sy nog geen terugvoer ontvang nie.

 

Vaalwater groet ’n bekende en geliefde inwoner. Mietsie Marlene Saunders (35) is op Vrydag 22 Maart oorlede. Sy het vir baie jare aan ’n ernstige hartkwaal gely. Vaalwater-inwoners het haar egter geken as ’n mens wat elke dag met geesdrif aangepak het en sy het haar uitgeleef in ’n wêreld van kreatiwiteit. Daar is min wonings in Vaalwater waar haar hand nie sigbaar is nie. Sy het ook ’n reeks houtmeubels ontwerp en vervaardig. Sy word oorleef deur haar vyf kinders, Jan-Hendrik (14), Alec (12), Nadia (6), Christion (3) en Amore (1), haar ouers Alec en Riekie Saunders van Vaalwater, vier susters en ’n broer. Die begrafnisdiens het op Donderdag 28 Maart in Brits plaasgevind.

 

Inwoners van Vaalwater is moedeloos oor die strate in die dorp wat bykans onbegaanbaar is. Dié foto van Bosveldstraat wat verby ’n bekende supermark loop, is volgens ’n jarelange inwoner en sakeman, Jan Vleis, reeds 12 jaar in dié toestand. Met elke reënbui vererger dit net, want daar is geen afvoerpype vir stormwater geïnstalleer nie. Klagtes val op dowe ore en geen instandhouding word gedoen nie.

 

Die Dameskring van Modimolle is op Maandag 11 Maart deur die burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, Marlene van Staden, toegespreek. Sy het ’n insiggewende lesing gegee oor die stand van sake in die munisipale gebied en het onder meer verwys na probleme met watervoorsiening, die stand van paaie en grondhervorming. Na ’n lewendige vraag-en-antwoord-sessie, kon die lede en eerste burger gesellig verkeer. Op die foto is Dina Steenkamp, Amy de Wet, Susan le Roux en Anni Niewenhuis. Agter is Anelize Fairbanks, Alita Rose, Anna-Marie Burger, Marlene van Staden, Elize Roos, Vilinda Lombard, Elsa Greyling en Lynette Smit.

 

Johan Steenkamp en Ilze-Mari Smit het op Saterdag 9 Februarie op JB Game Ranch buite Modimolle trou aan mekaar beloof. Johan se ouers, Johan en Rina Steenkamp woon in Hibberdene en is albei VKB-werknemers. Ilze-Mari is die dogter van Charles en Marika Rietchard van Modimolle en hulle is betrokke by Nylstroom-skroothandelaar. Die egpaar gaan in Modimolle woon.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button