LettersOpinion

Suster sal altyd deel van mooi herinnering wees

Dit is reeds twee jaar later en ek worstel steeds daagliks met die gebeure.

James Potgieter van Gauteng skryf:

Dit was ’n onmenslike skok om te verneem dat my geliefde suster oorlede is.

Die skok was nog groter toe ek verneem dat sy doodgeskiet is deur haar eie man. Die persoon wat veronderstel was om haar te beskerm.

Twee dae voor die tragedie het my suster gesê alles gaan reg wees en gevra dat almal vir haar man, wat breinkanker gehad het, moet bid. Dit is reeds twee jaar later en ek worstel steeds daagliks met die gebeure.

Dié man het nie net my suster vermoor nie, hy het my ook met ’n dolk deurboor wat nie uit my hart wil kom nie. My suster was vir 30 jaar getrou aan haar man.

Die oomblik toe daardie pistool op haar gerig is, moes sy om haar lewe veg. Maar as ’n erkende ongelowige sou hy nie gedink het dat die oordeel van lewe en dood hom nie toekom nie.

Daar word vertel dat hulle gelukkig was. Tog sal niemand weet wat agter geslote deure aangegaan het nie.

Ek het ’n baie noue verbintenis met my suster gehad, waarvan my broer en haar dogter nie eens bewus was nie en nog minder sy familie. Almal wil glo dat my suster ingestem het om vermoor te word, maar dit is ’n leuen, want sy sou dit nie gedoen het nie.

Ek is dit verskuldig aan my suster om haar naam in ere te herstel en wens daar was meer wat ek kon doen om die tragedie te voorkom.

Ek vra myself dikwels waarom haar man nie weggery en homself elders om die lewe gebring het nie? Die antwoord: dat hy selfsugtig was. Ek is ook oortuig sy het ’n martelaarsdood gesterf.

Wat haar man betref, veroordeel ek sy daad. Ek weet hy sal voor ’n regverdige God moet staan en rekenskap gee.

Ek verlang baie na my suster en is steeds erg getraumatiseerd en skrik nog steeds soggens wakker en hoop dit was net ’n nagmerrie.

Ek praat hier uit eie ondervinding en ná ek die saak ontleed het. Ek kan nie namens my familie praat nie.

My geliefde en beminde sussie Susan, ek is bitter jammer vir wat jy moes deurmaak en ook dat ek jou nie vooraf kon waarsku nie. Met die wete dat ek jou altyd sal liefhê en bemin.

Die troos is ek weet waar jy vandag is — in die hande en op die skoot van ons Hemelse Vader.

* James is die jonger broer van Susan Bronkhorst (53) wat in 2017 saam met haar man, Jan Robert (63), dood op hulle plaas in die Droogekloof-omgewing buite Bela-Bela gevind is. Luidens die nadoodse ondersoek, wat reeds geliasseer is, het die polisie bevind dat Jan Robert sy vrou en toe homself geskiet het.

Related Articles

Back to top button