Local newsNews

Sluit aan by reddingsgroep

Besit jy ’n viertrekvoertuig en dra jy die veiligheid van ander op die hart?

Die Off Road Rescue Unit (ORRU) wil ’n groep vrywilligers in die Waterbergstreek op die been bring.

Dié organisasie bestaan uit ’n hoogsopgeleide groep mense wat soek- en reddingsdienste in beboste asook stedelike gebiede in Suid-Afrika aanbied. Hulle bied ook logistieke en kommunikasieondersteuning aan ander organisasies. Die eenheid werk nou saam met plaaslike en nasionale nooddienste, die lugmag, die burgerlike lugvaartowerheid, die polisie, die bergklimklub van Suid-Afrika en ander reddingsorganisasies.

Volgens Alan Reid, wat onlangs na Modimolle verhuis het en jare lank reeds betrokke is by die groep, gaan dit nie oor die grootte van die voertuig nie, maar eerder die bestuurder se vernuf.
“Ons het mense met Jimnys én Landcruisers wat deel is van die span. Ons is spesialiste op rowwe terrein. Dit is belangrik dat vrywilligers ’n passie vir dié soort werk het en tyd sowel as geld aan hul opleiding kan spandeer. Dit kos ’n paar rand om hul voertuie toe te rus. Hulle moet redelik fiks wees en so 10 km op 20 km in ’n dag kan stap,” het hy gesê. Vrywilligers ontvang deeglike opleiding wat onder andere basiese noodhulp, die lees van kaarte, asook GPS-seine insluit.

“Ons help tydens noodgevalle waar stappers verlore raak in die berge, koördinering tydens veldbrande, vloede en wanneer daar na vermiste vliegtuie gesoek word. Ons het ’n mobiele beheersentrum wat toegerus is met ’n televisie, drukker, noodtoerusting en radio’s. Die radio’s los dikwels die probleem op wat by tonele ontstaan waar almal op verskillende radiofrekwensies is. Almal kan dan in kontak met mekaar bly,” het hy gesê.

Die eenheid bestuur ook padsluitings tydens die 94.7-fietsresies.

“Dit is een van die maniere waarop ons fondse insamel,” het Reid gesê.

Die groep werk onder die organisasie Rescue SA en van hul lede het tydens internasionale krisisse soos die vloede in Mosambiek en Tahiti, aardbewings in Japan en in Pakistan hulp verleen.

Diegene wat betrokke wil raak by die eenheid, kan Reid skakel by tel. 083 401 5218.

Related Articles

Back to top button