Local newsNews

Skarlakenkoors jaag Valies bed toe

Skarlakenkoors is nie dodelik nie, maar dit moenie verwaarloos word nie.

Ouers het die afgelope week hul kinders met arendsoë dopgehou vir ’n rooi veluitslag en seer kele nadat enkele gevalle van skarlakenkoors by leerders en ’n onderwyser van Laerskool Vaalwater gediagnoseer is.

Die skool het as voorsorgmaatreël die kinders op Maandag 11 Maart huis toe gestuur om te verhoed dat die siekte versprei. Hoewel talle kinders siektesimptome getoon het, blyk dit dat lugweginfeksies ook die afgelope week baie algemeen was.

Derick Kganyago, woordvoerder van die departement van gesondheid in die streek, het by navraag aan Die Pos gesê ’n span van die departement het die skool besoek om ondersteuning te bied.
Hy kon nie sê hoeveel gevalle van die siekte bevestig is nie. “Ons wag steeds vir die uitslag van die ondersoek.”

 

Die nuus dat die skool se deure tydelik gesluit is weens die siekte, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei met talle ouers wat gesê het dat hulle hul kinders veiligheidshalwe eerder tuis gaan hou. Kinders wat geen simptome gehad het nie, is na verneem word aangemoedig om weer Dinsdag aan te meld vir klasse.

Skarlakenkoors is nie dodelik nie, maar dit moenie verwaarloos word nie, het dr. Mich Veldman van Modimolle in ’n onderhoud gesê.

Dit word deur die streptokokkus-bakterie veroorsaak en steek maklik aan. Die simptome is ’n baie rooi keel en mangels. Die siekte gaan tipies gepaard met ’n “aarbeitong” wat eers wit en dan bloedrooi is. “Klassieke skarlakenkoors is seldsaam. Ligter vorms van die siekte doen egter soms die ronde.”

Dr. Rentia van Jaarsveld van Vaalwater het gesê dat daar vir skarlakenkoors getoets word deur ’n keeldepper weg te stuur. Dit neem vyf tot sewe dae vir die uitslag van die toets. Omdat dit reeds hoogs aansteeklik is vóór die simptome verskyn, word dit ná ’n kliniese ondersoek met antibiotika behandel.

Volgens Van Jaarsveld is daar slegs ’n klein risiko dat komplikasies tot rumatiekkoors kan ly wat die hartkleppe beïnvloed.

Sy het gesê dr. Peter Farrant, pediater in Vaalwater, sowel as dr. Cas Breedt van Modimolle het elk ’n geval van skarlakenkoors bevestig nadat keeldeppers weggestuur is.

Philip Mostert, voorsitter van die beheerliggaam van die skool, het by navraag aan Die Pos gesê: “Ons as beheerliggaam gaan nie verdere uitsprake lewer alvorens die ondersoek deur die departemente van gesondheid en onderwys afgehandel is nie.”

Leonard Vorster, skoolhoof van Laerskool Vaalwater, wou ook nie kommentaar lewer nie en het gesê die skool wag dat die ondersoek afgehandel is.

Related Articles

Back to top button