NewsSchools

Onderwysersunie kyk na talle uitdagings

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se provinsiale uitvoerende raad (PUR) in Limpopo het op Dinsdag 5 Maart hul kwartaallikse vergadering in Polokwane gehou.

Vakaturelyste vir veral bevorderingsposte wat oor ’n lang tydperk nie verskyn het nie, is luidens ’n mediaverklaring van SAOU ’n groot kopseer.

“Intussen knak skole onder geldelike druk omdat bestuursliggame aflosonderwysers vir onbepaalde tydperke uit skoolkoffers moet betaal.”

SAOU het opnuut ‘n beroep op ouers gedoen om hul skoolgeld te betaal om gehalte onderrig vir hul kinders te verseker. Intussen sal SAOU aanhou om antwoorde by die departement van onderwys te soek.

“Aangesien so baie voormalige model C-skoolhoofde eersdaags aftree, is dit uiters belangrik dat daar ten minste spoedig ’n vakaturelys vir skoolhoofde verskyn,” lui die verklaring.

Ander sake wat onder die loep geneem is, was agterstallige koshuistoelae, konsessie-aansoeke vir leerders wat leerprobleme ervaar, behuisingstoelae wat aanlyn bevestig moet word deur lede, salarisverhogings vir opvoeders met ingang 1 April 2019, die registrasie van onderwysstudente wat saam met ’n polisieklaring ingedien moet word en kraamverlofvoordele aan onderwysers (ma’s en pa’s) in beheerliggaamposte.

‘n Baie belangrike besprekingspunt op die agenda was die regering se vervroegde pensioen-aanbod aan lede van 55-59 jaar. Aansoeke kan tussen April en September vanjaar by die departement ingedien word. Hierdie aanbod behels dat daar geen penalisering sal plaasvind vir aftrede voor 60 nie. Die persoon sal egter nie toekomstige jare — tot en met die ouderdom van 60 jaar — se salaris bykry nie. Lede word gemaan om baie goed te besin en nie emosionele besluite te neem nie.

SAOU nooi sy lede om Susan Lourens, vakbondverteenwoordiger in Limpopo, te bel by tel. 083 301 4349 of vir Wilma Henn, uitvoerende beampte, by tel. 083 407 5529.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button