MunicipalNews

Burgemeester bedank AfriForum vir herstel van pompe in Mookgophong

Die AfriForum-tak in Mookgophong het gedurende Februarie hul hulp aan Marlene van Staden, burgemeester, aangebied vir die herstel van twee boorgate in die Nylrivier wat water aan die dorp verskaf.

Volgens die takvoorsitter, Philip van Staden, het AfriForum ’n diensverskaffer in Mookgophong versoek om die boorgate se pype op te trek en ’n kwotasie te gee vir die herstelwerk aan die pompe. AfriForum was bereid om vir die herstelwerk aan die pompe te betaal indien dit binne hul begroting val. Die munisipaliteit het goedkeuring gegee dat AfriForum wel hulp mag verleen.

Volgens Van Staden beloop die totale rekening meer as R27 000.

AfriForum het besluit om hul woord gestand te doen en het met die burgemeester ooreengekom dat hulle uit hul tak se fondse die herstelkoste sal betaal, het hy gesê.

“Watervoorsiening is vir ons een van die belangrikste dienste wat ’n munisipaliteit moet lewer en die Grondwet onderstreep dat mense in Suid-Afrika die reg het op water. AfriForum het einde 2018 vier ander boorgate teen ’n koste van R24 000 herstel om aan inwoners se behoeftes te voorsien. Waar ons kan, sal AfriForum probeer help,” het Van Staden gesê.

Marlene Van Staden het aan Die Pos gesê daar word baie keer gelyktydig waterprobleme in verskeie dele van Mookgo-phong ondervind.

“Die proses om dienste te herstel, is te traag na my sin en ons maak baie keer staat op privaat ondernemings of instansies soos AfriForum om die munisipaliteit te help om probleme vinniger op te los. Ek wil dus baie dankie sê aan Phillip en lede van AfriForum vir hul bydrae om twee boorgate in die Nylriver weer diensbaar te maak. Die bykomende water wat gepomp word, sal help om die watertoevoer na al die gebiede te verbeter,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button