Local newsNews

Bela-Bela neem afskeid van Piet Weideman

Bekende oudsportman en jarelange inwoner van Bela-Bela, Piet Weideman (81), is op Saterdag 2 Maart in die Warmbad Rusoord oorlede.

Hy het kort voor sy dood ’n beroerte gehad wat sy gesondheid laat versleg het.

Weideman het in die Swartruggens-omgewing grootgeword. Volgens sy familie het hy skool in gr. 10 (destyds st.8) verlaat om te gaan boer. Hy was een van 11 kinders.

Hy het in die Welkom-omgewing vir die Anglo American-groep begin werk as varkboer.

Twee kinders is uit sy huwelik met sy vrou, Ogies, gebore.

Die familie het Bela-Bela toe verhuis toe die kinders nog klein was waar hy ’n suksesvolle varkboerdery op Roodekuil buite Bela-Bela bestuur het. Hy het in 1997 afgetree en hom in die dorp gevestig.

Ogies is in 2013 oorlede.

Sy kinders Loraine en Kobie onthou met deernis hoe hy destyds vir hulle ’n tennisbaan op die plaas gebou het met die doel dat hulle self die baan moet onderhou. Volgens hulle was hy iemand wat graag sy kinders in liefde bederf het.

Hy is later met Ora Grimes getroud saam met wie hy ’n vol lewe gelei het. Die egpaar het onder meer saam oorsee gereis, het die familie gesê.

Sy familie het hom bestempel as ’n toegewyde, goddelike man met integriteit wat lief was vir sy familie. Hy was baie handig en houtwerk was sy gunstelingtydverdryf.

Hy en sy twee Jack Russel-honde was sinoniem en het baie tyd saam deurgebring.

Weideman se gedenkdiens het op Vrydag 8 Maart vanuit die NG Moedergemeente in Bela-Bela plaasgevind. Hy laat sy vrou, sy twee kinders, drie broers, twee susters, kleinkinders en agterkleinkinders, asook sy aangetroude familie, agter.

Related Articles

Back to top button