BlogsOpinion

Hoofartikel: Deel tog ook die goeie nuus

Wanneer sosiale media korrek aangewend word, kan dit ook gebruik word om in te lig, om op te bou, om te kalmeer, om positiewe nuus te versprei.

Net soos die tong, wat volgens die Bybel ’n veldbrand kan begin en só ’n hele plek aan die brand kan steek, net so is sosiale media.

Dit help nie hoe ’n mens keer nie, die vlamme spring elke keer op ’n ander plek uit.

Vra maar vir Marelize van Namibië. Vra vir Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit wat die afgelope week deurgeloop het onder die woedende tong van ’n inwoner wat ’n video versprei het oor swak dienslewering in Modimolle. Vra vir Laerskool Vaalwater.

 

Toe onderwysers en ouers van dié klein plattelandse skooltjie met sy rustige karakter dié week hul oë uitvee, was hulle hoofnuus. Nie net in die Waterberg nie, maar lándwyd. Oor die radio en op televisie, in dagblaaie en op almal se selfone en tablette.

Die nuus dat die skool sy kinders huis toe gestuur het as voorsorgmaatreël teen enkele gevalle van die aansteeklike kindersiekte skarlakenkoors, het soos daardie spreekwoordelike veldbrand “gehardloop” en nou nog nie gaan stilstaan vir asem skep nie.

Hierdie is egter ’n klassieke geval waar die “veldbrand” met die nodige “voorbrande” gekeer kon word.

Wanneer sosiale media korrek aangewend word, kan dit ook gebruik word om in te lig, om op te bou, om te kalmeer, om positiewe nuus te versprei.

Lees byvoorbeeld in hierdie week se brieweblad van die inwoner van Mookgophong wat Facebook ingespan het om ’n hele gemeenskap op te kommandeer om te help om ’n klein meisietjie se groot musiekdroom waar te maak.

Lees ook die storie van Lennie Aspeling van Mookgophong wat die taxibestuurder wat die ongeluk veroorsaak het waarin Aspeling die gebruik van sy bene verloor het, ontmoet het.

Deel asseblief ook hierdie storie van bykans bomenslike vergifnis wyd en syd met lesers reg oor die land.

Selfs al besef ons dit nie aldag wanneer ons die een na die ander vreeslike storie op sosiale media lees nie, is ons almal tog so uitgehonger vir die mooi en die goeie.

Related Articles

Back to top button