Local newsLocal sportNewsSport

Jagters help met projek teen armoede

Sowat 300 jagliefhebbers van Gauteng en Limpopo het tydens die onlangse ekspo by Castle de Wildt buite Modimolle ruim-skoots bygedra tot Helpende Hand se HelpJag-veldtog wat poog om armoede en honger hok te slaan.

Solidariteit Helpende Hand se sameroeper van HelpJag, Margolé Riekert, het in ’n media-verklaring gesê ongeveer R200 000 is op Vrydagaand 1 Maart tydens die “GaanBos-” gala-geleentheid ten bate van dié projek ingesamel.

Die geselligheid was volgens haar die hoogtepunt van die ekspo. Die bekende oud-Springbokrugbyspeler Bakkies Botha en sanger Adam Tas het saam met twee beroepsjagters, Jaco Kruger van Modimolle en Riaan Botha van Mookgophong, aan ’n paneelgesprek deelgeneem en van hul interessante jagstaaltjies met die gaste gedeel. Hamilton Wessels was die aanbieder. Optredes deur Tas en Verona Goslett, een van die deelnemers van The Voice SA 2019, het die aand vir vermaak gesorg.

Daar is ook ’n veiling gehou waartydens een van die kunstenaars by die ekspo, Natalie Sutton, se gewilde kunswerke opgeveil is. ’n Bedrag van R40 000 is ingesamel.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PJASA) het ook tydens die geleentheid ’n ruim skenking van R50 000 aan die HelpJag-fonds gemaak.

HelpJag versprei saam met Helpende Hand se Kosblikkie-projek wildsvleis aan 6 550 behoeftige kinders by 83 kleuterskole landwyd.

“Vleispryse het só gestyg dat daar nie altyd geld is vir ’n gesonde bord kos waar vleis deel van die spyskaart is nie. Dit het vir ons duidelik geword dat daar baie jagters is wat graag ’n bydrae wil lewer deur die vleis van ’n bok wat hulle gejag het te skenk om ’n behoeftige kind se lewe makliker te maak,” het Riekert gesê.

Om deel te wees van Helpende Hand, bel vir Marianthie van der Walt, streeksorganiseerder in Limpopo en Noordwes, by tel. (014) 743 1050 of tel. 082 741 7858. Haar e-posadres is marianthie@helpendehand.co.za of besoek die webtuiste by www.helpendehand.co.za(.)

Related Articles

Back to top button