CrimeNews

Werkers betoog by hof terwyl egpaar verskyn

Hulle word daarvan verdink dat hulle oor ’n tydperk meer as R400 000 uit die Stilhoek-boerdery, ’n grenadellaplaas, se rekeninge gesteel het.

Rick en Mandie Botha (albei 31) van Bela-Bela het op Woensdag 27 Februarie in die hof op Modimolle verskyn op aanklag van bedrog.

Van die dansende betogers se plakkate het gelees: “Give us our money back Mandi (Stilhoek has lost a lot because of you!”), “Mandi must fall down, you stole from us!” en “Bring our money back Mandi!”

Die twee is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem. Die Pos het vroeër berig hulle word daarvan verdink dat hulle oor ’n tydperk meer as R400 000 uit die Stilhoek-boerdery, ’n grenadellaplaas, se rekeninge gesteel het.

Die Botha-egpaar, wat in diens van die onderneming was, het na bewering bankrekeninge vir plaaswerkers geskep, maar die geld vir eie gewin aangewend. Hulle is tans op verlengde borgtog van R2 000 elk.

Die saak is in Januarie vanaf Bela-Bela na die hof in Modimolle oorgeplaas.

Die hof het gehoor dat die egpaar tans op kommissiebasis in Pretoria werk.

Die saak teen hulle is uitgestel tot Maandag 25 Maart sodat hul regsverteenwoordiger afskrifte van die dossier kan kry.

  • Anita van Niekerk, ’n sakevrou van Modimolle wat in Mei 2017 van bedrog aangekla is, het dieselfde dag in die hof verskyn. Die aanklagte teen Van Niekerk hou verband met ’n handtekening van haar sakevennoot wat sy na bewering op ’n aansoek aan ’n motorhandelaar nageboots het. Van Niekerk se nuwe regsverteenwoordiger het versoek dat die saak uitgestel word sodat hy ’n transkripsie van die hofverrigtinge kan kry. Die saak gaan op Woensdag 27 Maart voor landdros Pieter Manthata voort.
  • Die man wat daarvan aangekla word dat hy in Januarie verlede jaar ’n 13-jarige meisie van Modimolle ontvoer het, het ook in die hof verskyn. Benewens ontvoering, staar hy ook aanklagte van verkragting van ’n minderjarige in die gesig. Die meisie was etlike maande lank vermis voordat sy saam met die verdagte in die Lichtenburg-omgewing opgespoor is. Sy is in die sorg van familie geplaas. Volgens die staat wag hulle vir ’n besluit van die direkteur van openbare vervolging omdat die misdade glo in verskeie provinsies plaasgevind het. Die saak is uitgestel tot Maandag 1 April. Die man se borgtog is verleng.

Related Articles

Back to top button