CrimeNews

Internetboewe word net al hoe slinkser

“Dit is duidelik dat internetbedrieërs al hoe meer gesofistikeerd raak.”

Slinks, slinkser, slinksste.

Internetbedrieërs rokkel steeds miljoene rande af deur niksvermoedende bankkliënte te bedrieg. Die aantal inwoners in Die Pos se lesersgebied wat deurloop, raak al meer.

Derduisende rande is onlangs op dié wyse uit die trustrekening van ’n plaaslike prokureur onttrek. Die firma verkies om nie hul naam te noem nie. ’n Werknemer was na-ure besig toe sy ’n e-pos ontvang het. Die e-pos was oënskynlik van die bank af en het aangedui dat ’n maandstaat aangeheg was. Die werknemer was juis besig met maand- en jaareinde en het die aanhangsel oopgemaak. Sy het dadelik onraad vermoed toe sy ’n SMS ontvang wat versoek dat sy ’n begunstigde skep en het onmiddellik al die programme op haar rekenaar toegemaak en die betrokke bank se noodnommer geskakel. “Ten spyte daarvan dat geen begunstigde geskep is nie, het ons kort daarna besef dat ’n groot bedrag uit ons trustrekening onttrek is. Dit was ’n baie groot skok,” het die prokureur gesê.

“Die bank se bedrogafdeling was ons baie behulpsaam en die geld was binne 48 uur terug in die trustrekening.” Hy is egter van mening dat die moontlikheid dat werknemers binne die bank betrokke kon wees, nie uitgesluit kan word nie aangesien die e-pos van die betrokke bank se domein afkomstig was.

Hy waarsku inwoners wat van internetbankdienste gebruik maak om hul deeglik te vergewis van hul bank se reëls in die versending van e-posse. “Dit is duidelik dat internetbedrieërs al hoe meer gesofistikeerd raak,” het hy gesê.


Die Bankrisikoinligtingsentrum (Sabric) gee die volgende raad:

  • Moenie enige aanhangsels op e-posse oopmaak as jy dit nie herken nie. Dit kan sagteware bevat wat inligting versamel. Moet ook nie op skakels klik wat jou na jou bank se webwerf neem nie — tik eerder self die webwerfadres in.
  • Hou jou geheime kodes geheim. Wees versigtig waar jy dit neerskryf of watter dokumente jy weggooi. Maak seker persoonlike inligting is nie leesbaar nie. Moenie kodes op jou selfoon stoor nie.
  • Indien jy ’n geheime kode moet skep, maak seker dit is ’n ingewikkelde of “sterk” kode wat moeilik is vir kuberkrakers om te breek.
  • Moet nooit dieselfde geheime kode vir te lank gebruik of dieselfde kode vir al jou aanlynrekeninge gebruik nie. Verander dit elke drie na ses maande.
  • Banke sal nooit bel en vra dat jy jou insleutelbesonderhede, geheime kodes of die sekuriteitsnommer wat agterop jou bankkaart is verskaf nie. As jy twyfel oor die oproep, sê eerder dat jy jou naaste tak sal besoek.
  • Maak seker dat die opsie om kennisgewingboodskappe te ontvang geaktiveer is sodat jy weet wanneer iemand toegang tot jou rekening kry of transaksies gedoen word. Indien jy onseker is hieroor, besoek jou bank se naaste tak.
  • Bykans al die banke het hul eie selfoontoepassing (app) wat ’n ekstra laag sekuriteit verskaf. Anders as met SMS’e of e-posse, kan dié boodskappe nie so maklik onderskep word nie.
  • Skakel jou bank onmiddellik wanneer jy ’n verdagte e-pos of SMS ontvang.

Nog ’n inwoner van Modimolle, wat nie sy naam genoem wil hê nie, was erg geskok toe hy ’n SMS van die bank af ontvang wat aandui dat meer as R250 000 uit sy rekening oorgeplaas is. “Ek het pas uit ’n winkel gestap toe ek die boodskap ontvang. Ek het onmiddellik die bank geskakel om dit aan te meld. Binne enkele minute vandat die bedrieërs toegang tot my rekening gekry het, het hulle my oortrokke fasiliteit, asook my kredietkaart, se limiete verhoog en al die geld na een rekening oorgeplaas,” het hy gesê.

“Die bank het my glo geskakel op ’n nommer wat ek glad nie ken nie. Hulle sê die persoon het my naam, huwelikstatus en ander persoonlike inligting bevestig. Hulle wil egter nie die opname van dié gesprek aan my beskikbaar stel nie. Hoe kon hulle my limiete verhoog sonder om ’n bekostigbaarheidstudie te doen? Gewoonlik moet ’n mens soveel papierwerk by die bank indien om dit reg te kry,” het hy gesê.

Die man het gesê dat hy gewoonlik boodskappe op sy bank-toep ontvang as hy banksake doen. In dié geval was daar geen boodskappe nie.

Ses weke nadat hy ’n saak by die polisie geopen het, het die bank sy geld terugbetaal. Hy sê dat hy nie op enige verdagte e-posse gereageer het nie en steeds nie weet hoe die bedrieërs toegang tot sy rekening verkry het nie.

Verskeie mense is al gevang wanneer hulle ’n oproep ontvang van iemand wat hom voordoen as ’n werknemer van ’n bank. Hulle word dan gevra om die nommer wat hulle per SMS sal ontvang, te lees. Die nommer, die “one time pin” oftewel OTP, gee bedrieërs dan toegang tot mense se rekeninge.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button