Local newsNews

Brandseisoen lê voor

Die gras staan oral hoog ná landwye reën en daar is ’n gevaarlike brandseisoen wat voorlê.

Ockert Scherman, voorsitter van die Naboomspruit-brandvereniging, het vandeesweek aan Die Pos gesê die gras staan oral hoog ná landwye reën en daar is ’n gevaarlike brandseisoen wat voorlê.
Die vereniging sal op Saterdag 9 Maart by die Elders-boerevereniging se veilingskrale byeenkom om brandsake te bespreek.

“Ek wil grondeienaars versoek om nou te begin om voorsorg te tref en hul brandpaaie reg te kry,” het hy gesê.

Hy het versoek dat brandpaaie só gemaak word dat ’n bakkie daar kan ry sonder om beskadig te word en ook daarop klem gelê dat alle grondeienaars voorsiening moet maak vir brandpaaie, of hulle aan die brandvereniging behoort of nie.

Daar was telkens in die verlede mense wat kom help het om veldbrande te bestry, selfs al is hulle nie self grondeienaars nie.

Hy het namens die boere sy dank uitgespreek teenoor dié vrywilligers vir hul onbaatsugtige hulp.

Lede kan van die Working on Fire (WOF) se kundige dienste gebruik maak om brande te help bestry en ook met die maak van brandpaaie. Hy het lede versoek om nou reeds seker te maak dat brandbestrydingstoerusting in ’n werkende toestand is en dat brandversekering uitgeneem word.

Indien ’n brand uitbreek, bel vir Scherman by tel. 073 1390 009 of Arrie Opperman (brandbeampte) by tel. 082 4147 721.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button