GalleriesSchools galleries

Skool beteken ‘skoolklere’

“Toe ek Lihan ná sy eerste dag by die kleuterskool gaan haal, het hy gehuil en gesê hy gaan nie weer terug nie, want as ’n mens skool toe gaan, trek jy nie speelklere aan nie, maar regte skoolklere.”

Vir Klein Lihan van Heerden (2) van Mookgophong beteken “skool toe gaan” beslis ook “skoolklere aantrek”.

Lihan is in Januarie 2019 vir die eerste keer “skool” toe as leerder van die Simba en Nala Kleuterskool op die dorp.

Die mannetjie, wat skaars ’n baksteen hoog is en op Saterdag 9 Maart drie jaar oud word, het beslis sy eie prentjie in die kop gehad oor die begrip “kleuterskool”.

Toe sy ma, Juanita van Heerden, aan hom vertel dat hy “skool” toe gaan, het hy besluit “skool” beteken ’n mens dra dieselfde skoolklere as ouboet Pierre, wat in gr. 5 in Laerskool Eugène N. Marais is.

“Toe ek Lihan ná sy eerste dag by die kleuterskool gaan haal, het hy gehuil en gesê hy gaan nie weer terug nie, want as ’n mens skool toe gaan, trek jy nie speelklere aan nie, maar regte skoolklere,” het sy ma laggend aan Die Pos vertel.

Sy het ’n klerewinkel wat skoolklere verskaf besoek om ’n item vir Sibella, sy sussie in gr. 2, te koop. Lihan het daar en dan besluit hy sal teruggaan kleuterskool toe mits hy “regte skooldrag” mag dra.

Ma Juanita moes maar bes gee, want die man se opvoeding is belangrik.

Sy het vir hom ’n grys skooluitrusting met “regte kouse en skoene” gekoop en Lihan was veral baie in sy skik om ook soos sy ouboet skoolklere “met broeksakke” te hê.

Die kleinste nommer wat beskikbaar was, is steeds te groot vir hom en moet omgevou word om te pas.

Sedertdien kry hy egter 100% vir skoolbywoning en kla nie meer oor skool nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button