NewsSchools

Laerskool Warmbad se adjunkhoof tree ná 34 jaar uit

Louis Fourie, adjunkhoof van Laerskool Warmbad, het op Donderdag 28 Februarie sy kantoordeur ná 34 jaar in die onderwys toegetrek.

Die personeel en leerders van die Warries het ’n spesiale geleentheid geskep om hul kollega, mentor en onderwyser te groet. Daar was baie trane, maar ook die gedeelde vreugde aan goue herinneringe. Gelukkig gaan hy en sy vrou, Jo, in Bela-Bela aanbly en steeds ingeskakel bly by gemeenskapsprojekte.

Louis Fourie (regs), adjunkhoof van Laerskool Warmbad, het amptelik ná 34 vol jare in die onderwys afgetree. Op die foto is hy saam met Hennie Coetzee (skoolhoof).

 

Fourie het aan Die Pos gesê hy het destyds as jong onderwyser ’n bevorderingspos by Laerskool Warmbad aanvaar.

“Dinge was daardie dae anders. Ons was ’n enkelmediumskool waar ek as senior koshuisvader oor ’n vol koshuis aangestel is. Die ouers van die omliggende omgewing het hul kinders in die koshuis geplaas sodat leerders gedurende die week aan aktiwiteite kon deelneem,” het hy vertel. “Ek moes tot ’n mate pa vir baie gespeel het. Ek moes troos en bystaan waar dit nodig was en soms ook kinders aangespreek het.

“Elke jaar het nuwe leerders en nuwe uitdagings en daarom sy eie hoogtepunte gehad,” het hy gesê. Maar volgens hom was dit vir hom ’n besondere voorreg om die afrigter van rugbyspanne te wees wat ’n paar keer as Noordelike Provinsie- en later Limpopo-kampioene teen groot, sterk skole uitgetree het.

“Dit het vir my gegaan oor die erkenning wat leerders vir hul harde werk en buiten-gewone prestasie gekry het. Dit was deel van die opvoedingstaak om hulle te moti-veer om beter te presteer.

“Dit maak my hart vol as leerders wat deur my hande is, as volwassenes suksesvol is, want op die ou einde ding ons nie teen mekaar mee nie, maar teen onsself.”

Volgens Fourie was nie alles wat hy aangepak het, noodwendig suksesvol nie, maar hy sien God se hand daarin en glo dat Hy vooraf die uitkoms bepaal het.

“Onderwys is ’n roeping. Diegene wat dit net as ’n werk beskou, sal dit nie maak nie. As ’n mens jouself verbind tot die onderwys en aanpas by veranderinge, sal jy suksesvol wees.”

Sy raad aan jong onderwysers is om ’n mentor vir leerders te wees en nie te probeer om ’n maat te wees nie.

“Deur respek, konsekwentheid en vertroue kan ’n onderwyser die leerders aanspoor om met vrymoedigheid hul probleme te bespreek.”

Die Fourie-egpaar sien uit na hul aftrede, want Jo tree ook aanstaande jaar af. Hulle beplan om sommer op kort kennisgewing die woonwa te pak en na ver plekke in die land te reis.

“Op my eerste dag as pensioentrekker het ek ’n klimraam vir my kleinkinders gebou. Al word ek steeds vroeg wakker, stel ek nie meer alarms nie. Ek wag nie vir ’n klok om te lui nie en hoef nie meer te wag vir skoolvakansies nie,” het hy gesê.

Fourie beplan om skole as konsultant te besoek en leerders met spelling en taalvaardighede te help deur middel van ’n rekenaarleesprogram wat spesifiek daarvoor ontwikkel is. “Ek sou nie ’n ander beroep as onderwyser wou hê nie.

“Dit was ’n voorreg om saam met soveel wonderlike ouers, personeel, beheerliggaamslede en leerders te werk. Ek is ook veral dankbaar teenoor my familie wat baie opgeoffer en my altyd ondersteun het,” het Fourie gesê.

Related Articles

Back to top button