Community galleriesGalleries

Geite en giere…

Wat gebeur in en om die Waterberg?

Klein Rése-Mari van Staden is net ses maande oud, maar het reeds die binnekant van ’n hospitaal leer ken nadat sy ’n bakteriële infeksie in haar longe ontwikkel het. Volgens haar ma, Bernedine van Staden van Vaalwater, was haar dogter een van sewe babas wat in dieselfde tyd met dieselfde simptome (hoë koors, slaperigheid en swak eetlus) in die Montana-hospitaal in Pretoria opgeneem is. Volgens Bernedine is Rése-Mari darem nou op die herstelpad en hulle hoop om eersdaags weer tuis in Vaalwater te wees.

 

Sophia Helena Rossouw het op Sondag 3 Maart haar 100ste verjaardag by Die Oog Aftree-landgoed buite Mookgophong gevier. Sy het die kerkdiens, gelei deur dr. Carel van Heerden, saam met familie en vriende bygewoon. Haar liefde vir sang en musiek is gevier deur die besielende optrede van die manne- en gemengde kore. Rossouw is dankbaar vir haar drie seuns, agt kleinkinders en agt agterklein-kinders. Sy is vol blydskap omdat die Here haar so onvoorwaardelik liefhet.

 

Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Warmbad-taklede het tydens hul Februarie-vergadering meer inligting gekry oor die plantgroep Bromeliaceae. Johan Roos, ’n kenner van bromeliads, het ’n groot verskeidenheid plante uit sy eie versameling aan die lede gewys. Met water wat skaarser word, is dit ’n goeie keuse aangesien die plante min water vereis en in potte kan groei. Daar is meer as 3 000 spesies in ’n reënboog van kleure beskikbaar.

 

Die Pos is op Donderdag 28 Februarie na ’n demonstrasie van African Wildlife Services (AWS), ’n plaaslike teenstropingseenheid, genooi. AWS-beamptes het aan belanghebbendes in die wildbedryf gewys hoe hulle stropers met die hulp van twee Duitse herdershonde, Phantom en Markus, tydens ’n skynoperasie vastrek. Louis Ebersöhn, medestigter van AWS, het gesê dit neem twee jaar om ’n hond op te lei sodat hulle uiteindelik op bevel ’n stroper sal aanval. Op die foto is Chris Pretorius, AWS-hondehanteerder, met Markus, wat Ebersöhn vir ’n oomblik benoud het tydens die demonstrasie. In die agtergrond is Albert Vos, AWS-reaksielid.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button