MunicipalNews

Daar is werklik vordering, sê burgemeester

“Ons gaan in Maart R10 miljoen aan Magalies Water betaal om ons laaste skuld te delg.”

Inwoners van Modimolle wat besorg is oor die welstand van hul dorp het vandeesweek ’n gemeenskapsvergadering bygewoon.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het op Dinsdagaand 26 Februarie, terugvoer gegee oor die vordering wat gemaak is sedert ’n soortgelyke vergadering ’n maand gelede gehou is.

Volgens Van Staden is die nuwe waardasierol van Vrydag 1 Maart tot Dinsdag 30 April beskikbaar vir insae. Inwoners moet verseker dat hul eiendomme se waarde korrek is sodat hulle nie te veel of te min eiendomsbelasting betaal nie. Sy het aangedui dat die waardasie wat tans op munisipale rekeninge verskyn, die ou waardasie van die afgelope sewe jaar is. Die nuwe waardasie is ook beskikbaar op die munisipaliteit se webwerf — die rekeningnommer wat op die munisipale rekening verskyn moet ingetik word.

Van Staden het ook ’n brief van Magalies Water gelees waarin hulle die redes verskaf hoekom hulle nie Modimolle se volle kwota water kan lewer nie. ’n Onvoldoende begroting blyk die grootste oorsaak te wees waarom die aanjaagpompstasie naby Sondela, wat water vinniger vanaf Magalies af sal stuur, ná jare steeds nie voltooi is nie.

“Hulle het nou beloof dat die projek teen Maandag 3 Junie voltooi sal wees en dat ons dan bykomende water sal ontvang. Ons hoop dit realiseer dié keer,” het Van Staden gesê. Dit sal die hoeveelheid water wat van Magalies ontvang word opskuif vanaf die huidige drie tot vier megaliter na sewe megaliter.

“Ons gaan in Maart R10 miljoen aan Magalies Water betaal om ons laaste skuld te delg. Dié geld is deel van die R70 miljoen wat ons van die provinsiale regering ontvang het. Die bedrag gaan direk deur die provinsie aan Magalies betaal word,” het sy gesê.

Die goeie nuus is dat die Donkerpoortdam se watervlak op 70% staan ná goeie reën die afgelope twee weke. Hoewel die pompstasies en pype nagesien en skoongemaak is, moes die munisipaliteit, kort nadat water uit die dam gepomp is, ophou weens ’n rooi kleur in die water. “Ons het watermonsters geneem en weggestuur om getoets te word. Die rooi kleur kan dui op te veel yster of mangaan en ons sal dit regstel sodra ons die uitslae ontvang. Ons prioriteit is nou skoon water,” het sy gesê. Die waterskedule behoort afgeskaf te word sodra water uit die dam gepomp kan word.

Van Staden het genoem dat daar binnekort ’n vergadering plaasvind tussen die hoofdirekteur van waterwese, die munisipaliteite van Bela-Bela en Modimolle-Mookgophong en Magalies Water. Befondsing vir ’n projek om water vanaf die Klipvoordam buite Brits te verskaf, gaan ook bespreek word.

Hoewel daar vordering gemaak is met die rioolprobleme op die dorp, het Van Staden gesê dat alles nog nie opgelos is nie.

“Die rioolaanleg funksioneer nog nie ten volle nie. Ons het egter nou ’n flink kontrakteur wat die nuwe aanleg gebou het om te verseker dat alles werk. Die geld vir die projek is ook beskikbaar,” het sy gesê.

Sodra die rioolaanleg werk, behoort dit die druk van die res van die stelsel te verminder. Sy het ook die afgelope week ’n kenner na die slagpale geneem sodat hy ’n verslag kan opstel oor die redes en moontlike oplossings vir die konstante rioollek in die pyplyn wat langsaan verby-loop. Inwoners was die afgelope paar maande die josie in oor bloedwater wat in die nywerheidsgebied pad af stroom en in die Nylrivier beland.

Die groot gat in Paul Krugerstraat wat maande lank vol rioolwater staan, besorg glo hoofbrekens. Hoewel water reeds uitgepomp en opvulmateriaal ingewerk is, kon die probleem nog nie opgelos word nie, het sy gesê.

Verdere kwellinge wat deur inwoners geopper is, is die swak toestand van batterye by die substasies, straatligte wat óf heeldag brand óf nie werk nie, veral in die hoofstraat, munisipale werkers wat lyk of hul slegs na-ure werk om op oortyd aanspraak te kan maak, slaggate in paaie en ’n tekort aan stoptekens.

Related Articles

Back to top button