CrimeNews

Vermeende dwelmsmouse kry bloedneus

Daar is op 1 108 pakkies nyaope en ’n groot bedrag geld beslag gelê.

Dwelmhandelaars en –gebruikers in Modimolle het die afgelope week bloedneus gekry danksy wakker lede van die polisie.

Twee mense met meer as ’n duisend pakkies nyaope in hul besit is voorverlede week deur lede van die Modimolle-kringpolisie vasgetrek. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Moatshe Ngoepe, het beamptes ’n moontlike dwelmtransaksie op Vrydag 15 Februarie dopgehou toe hulle ’n verdagte voertuig gewaar het. Die voertuig is agtervolg tot by ’n sinkhuis in die Eersbewoond-gebied tussen Modimolle en Bela-Bela waar hulle gewag het dat die verdagtes eers ingaan.

Dié vier polisiebeamptes, konst. Mbhovhani Hlungwane, konst. Meshack Mtshini, AO David Kwinana en sers. Jeffrey Langa, het ’n slag geslaan in die stryd teen dwelmhandel nadat ’n vermeende dwelmhandelaar vasgetrek is.

 

Die polisie het daarna toegeslaan en William Fortuin (36) en Joyce Sikhu (30) in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelms. Daar is op 1 108 pakkies nyaope en ’n groot bedrag geld beslag gelê. Die twee het reeds in die hof verskyn en bly in aanhouding. Hulle sou weer op Woensdag 27 Februarie in die hof op Modimolle verskyn.

Die Modimolle-polisie het verlede week ook inligting ontvang dat daar ’n man is wat met die dwelm nyaope in Phagameng handel dryf. Konst. Mbhovhani Hlungwane, konst. Meshack Mtshini, AO David Kwinana en sers. Jeffrey Langa het ’n operasie gereël en die man ’n tyd lank dopgehou. Hulle is almal betrokke by die honde-eenheid, behalwe vir Mtshini wat by die openbare-orde-polisie-eenheid (Pops) is.

Die man is op Vrydag 22 Februarie kort ná 07:00 in Sedibastraat in Phagameng vasgetrek met meer as 30 klein opgerolde pakkies nyaope in sy besit. Thabang Mabusela (ouderdom onbekend) het op Maandag 25 Februarie in die hof op Modimolle verskyn. Hy is nie op borgtog vrygelaat nie en sy saak is uitgestel tot Maandag 4 Maart.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is nog ’n man agter tralies nadat ’n familielid die polisie op Saterdag 23 Februarie geskakel het. Albert Ruytenberg (39) is by ’n woonhuis in die dorp in hegtenis geneem nadat die polisie hom in sy kamer gevind het waar hy glo nyaope uit ’n pyp gerook het. Hy het op Maandag 25 Februarie in die hof op Modimolle verskyn en R1 000 borgtog is toegestaan. Die borggeld is egter nie betaal nie en hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op Maandag 1 April, het Findlay gesê.

Nyaope is ’n dodelike mengsel van dwelms en ander stowwe wat die gebruiker laat hallusineer. Die dwelmmengsel bestaan dikwels uit rotgif, derdegraadse heroïne, skoonmaakmiddels, batterysuur, anti-retrovirale medisyne wat vir HIV-pasiënte bestem was en dagga of tabak. Verskeie sterftes is al aangemeld.

“Oud en jonk van alle gemeenskappe word deur dwelmmisbruik geraak. Dit lei gewoonlik tot ander misdade soos diefstal en aanrandings. Die probleem moet dus so gou moontlik hok geslaan word,” het Findlay gesê.

Related Articles

Back to top button