CrimeNews

Polisie vind brief op toneel ná man vermoedelik gif drink en sterf

Volgens die Bela-Bela-polisie het iemand die polisiestasie gebel en gesê dat die man vroeër gedreig het om gif te drink.

Die Bela-Bela-polisie het op Maandag 18 Februarie ’n nadoodse ondersoek geopen nadat ’n 63-jarige man van Bela-Bela vermoedelik gif gedrink en gesterf het.

Johannes Stephanus Bezuidenhout was volgens die polisie ’n sakeman wat ’n bakkery buite die dorp bestuur het.

Die voorval het op ’n vakansieoord net buite die dorp plaasgevind. Die bestuur het egter gevra dat die oord se naam nie genoem word nie.

Volgens die Bela-Bela-polisie het iemand die polisiestasie gebel en gesê dat die man vroeër gedreig het om gif te drink.

’n Beampte is uit na die toneel en het die wooneenheid wat die man gehuur het, besoek.

Nadat niemand op die polisiebeampte se geklop en geroep gereageer het nie, het die beampte by die woning ingegaan en die bejaarde man bewusteloos in die hoofslaap-kamer, langs die bed, aangetref.

Die nooddienste is ontbied maar die man is dood verklaar nadat hy ondersoek is.

Die polisie het gesê dat daar geen sigbare beserings aan die man gevind is nie en hulle vermoed dat hy homself vergiftig het.

’n Brief is volgens die polisie op die toneel gevind. Die ondersoek duur voort en die presiese oorsaak van sy dood sal ná die lykskouing bekend gemaak word.

Related Articles

Back to top button