BlogsOpinion

Hoofartikel: Dit was nog altyd gróót

Dit was van die lekkerste herinneringe wat ek van my skoolloopbaan koester. Daardie twee maande se saamlag, saamhuil en saam droogmaak.

Toe die optog van atlete tydens die pas afgelope Bosveld Interhoër voor die toeskouers en skole verby beweeg, het ek ver terug gedink — 36 jaar terug.

Ek het my matriekjaar in Hoërskool Ellisras onthou. Daardie jare nog ’n bitter klein skool. Dit was in die jare vóór die destydse Ellisras toegesak is deur kontrakteurs en fortuinsoekers tydens die ontwikkeling van die Medupi-kragstasie.

 

Eintlik nog plaasskool. Ons was maar 50 matrieks “sterk” en elke leerder het régtig ’n naam gehad. En die skoolhoof was “oom Neels”. Van formele aanspreekvorms in dié plattelandse skool was daar nie veel sprake nie.

Dit was in 1983 en die skool het vir die eerste keer in die geskiedenis die interhoër aangebied. Die geriewe het erg tekort geskiet. Die grondbaan het gebly, maar daar moes ekstra pawiljoene en badkamers gebou word.

In Januarie daardie jaar het die leerders, onderwysers en ouers vir twee maande pawiljoene en badkamers gebou. Klasdraf het saam met die interhoërvoorbereidings by die agterdeur uitgewaai. In die bloedige hitte van Lephalale het die senior meisies ’n menslike ketting gevorm en stene vir die bouers aangegee, die senior seuns het sement gemeng en met kruiwaens aangedra. Die juniors het bossies uitgetrek, geskoffel en tuin gemaak.

Dit was van die lekkerste herinneringe wat ek van my skoolloopbaan koester. Daardie twee maande se saamlag, saamhuil en saam droogmaak. Toe ek jare later weer ’n interhoër by my alma mater bygewoon het, het ons pawiljoene nog as stille getuienis daar gestaan. Ons hande-werk, ons onthou, ons trots. Onlos-maaklik deel van ons grootwordjare.

Hoërskool Ellisras was destyds een van die kleinste skole wat aan die interhoër deelgeneem het. Saam met Hans Strijdom en Settlers Agri-cultural High School, wat toe nog deel was van die interhoër, het ons jaarliks om die prestasiebeker óf laaste plek meegeding. Die “groot” skole was Warmbad en Nylstroom. En dit was veral Wambad wat gewoonlik skoonskip gemaak het met Steve Rautenbach as hul atletiekafrigter. Rautenbach was ná sy onderwysjare by die Warries een van die afrigters van die Suid-Afrikaanse atletiekspan.

Intussen het die bordjies verhang. Die klein skole het groot geword en die groot skole het klein geword — letterlik.

Toe die groot Rassies die atletiekbeker weer ná baie jare by die pas afgelope interhoër gewen het, het ek weer die “klein” onthou. Die “klein” wat eintlik “gróót” was.

En daar het ’n warmte my omvou. ’n Warmte wat miskien net deur ’n Bosveldkind wat in die Waterberg skoolgegaan het, verstaan sal word.

Want “so staan ons vasberade, ons reik elk aan die hand.

In ons geliefde Bosveld.

Vir die toekoms van ons land.”

Related Articles

Back to top button