LettersOpinion

Eskom speel sentrale rol in Suid-Afrika se talle uitdagings

Waarom nie wegdoen met regstellende aksie nie, Eskom privatiseer en mense op meriete aanstel? Dit lyk asof Eskom meer begaan is om aan rassekwotas te voldoen, as om die land se belange te dien.

Karel Niewenhuis, adjunk provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:

Suid-Afrika se ekonomie staan voor enorme uitdagings waarin Eskom ’n sentrale rol speel.

Kredietgradering en beleggingsvertroue is twee sleutelbegrippe in die ekonomiese sfeer. Hoe staatsondernemings, en veral Eskom, gefinansieer word, is bepalend vir ekonomiese oorlewing. In ’n optimistiese begroting word R69 biljoen aan Eskom afgestaan.

Die meeste ekonome is dit eens dat dit te laat en te min is om hierdie vuur onder beheer te kry. Saam met al dié faktore is groeiende werkloosheid ’n monster met tentakels wat al hoe verder uittak.

Regstellende aksie is aan die wortel van meer as een probleem in die land. Niks spreek so hard en ooglopend daarvan as juis Eskom nie. Volgens Eskom se nuutste plan vir regstellende aksie, sal 1 308 minder gekwalifiseerde blanke werknemers teen Maart 2020 in hul diens wees. Dit lyk tans asof daar geen kundiges onder die 48 000 werknemers van Eskom is nie. Eskom moet ten duurste so ver soos Italië gaan soek na kundigheid.

Waarom nie wegdoen met regstellende aksie nie, Eskom privatiseer en mense op meriete aanstel? Dit lyk asof Eskom meer begaan is om aan rassekwotas te voldoen, as om die land se belange te dien.

Suid-Afrika betaal ná 25 jaar vir die implementering van regstellende aksie deur die moontlikheid in die gesig te staar dat die belangrikste staatsonderneming die toekoms letterlik en figuurlik in die donker kan laat.

Beloftes om Eskom te ontbondel, beteken die regering behou beheer. Dit maak die vooruitsig van ’n beter elektrisiteitbedeling skraal. Voeg hierby vakbonde wat gogga-maak-vir-baba-bang met die president, en by implikasie die hele land, speel. Eskom en sy vakbond hou die land gevange. Hulle ondergang sal die ondergang van die hele land beteken en hulle is bewus daarvan.

Eskom is ’n sinkende skip en al wat tot dusver uitgerig is, is om die stoele op die dek te herrangskik. Elke geregistreerde kieser kry op Woensdag 8 Mei die geleentheid om die skip om te draai — mits hulle vir ’n party stem wat hul belange vooropstel, weer vooruitsig in ’n ekonomiese wildernis bring en die magsbalans tussen partye herstel.

Related Articles

Back to top button