Lifestyle

Verbruikerswet beskerm voertuigkopers

Nuwe motors is duur en geld is min, daarom bied gebruikte motors aan soveel mense die enigste geleentheid om ’n eerste motor te koop of selfs op te gradeer na ’n groter of luukser model.

Maar in die meeste gevalle loop hierdie kopers maar lig vir die gebruikte voertuighandelaars. Ons het al soveel kere gelees of gehoor van kliënte wat bloutjies geloop het.

Die wet op verbruikersbeskerming (WOV) bied gelukkig ’n mate van beskerming aan die koper. Dit is egter belangrik om te verstaan dat die wet se fokus op redelikheid en regverdigheid is.

Onverantwoordelike kopers moet dus nie wonderwerke verwag nie, maar eerder steeds alles in hul vermoë doen om ’n voertuig eers deeglik deur te kyk en by ’n handelaar met ’n goeie reputasie aan te klop.

Dit is ook belangrik om die volgende in gedagte te hou:

  • Die WOV bied geen beskerming aan kopers wat ’n privaat transaksie aangaan of motors op veiling koop nie. Groothandelaars soos Webuycars verkoop motors met die verstandhouding dat die koper ’n handelaar is en nie ’n verbruiker nie, daarom verloor die koper ook beskerming in terme van die wet.
  • ’n Motor kan binne ses maande teruggeneem word indien daar defekte is. Kopers moet onthou dat gewone slytasie of foute wat nie maklik deur die verkoper raakgesien kan word nie, nie voldoende rede sal wees om summier die koper se geld terug te vra nie.
  • Kopers moet verstaan dat probleme wat aan hulle uitgewys is, nie later gebruik kan word om te kla nie en die aanname word gemaak dat ’n gebruikte motor nie in dieselfde toestand as ’n nuwe voertuig kan wees nie.
  • Daar is ’n afkoelperiode, maar kopers moet verstaan dat ’n afkoelperiode slegs geldig is indien daar op direkte bemarking (SMS of e-pos, ensovoorts) gereageer is en indien die transaksie op ’n ander plek as die handelaar se vloer plaasgevind het. Die wet aanvaar dus dat ’n persoon wat uit sy eie na ’n handelaar gaan om na motors te kyk, nie besig is met ’n ingewing van die oomblik-transaksie nie.

Dit is die verantwoordelikheid van ’n handelaar om ’n voertuig te verkoop wat veilig, van goeie gehalte en in ’n werkende toestand is. Vir die koper is dit belangrik om liefs met ’n bekende, eerbare handelaar sake te doen.

My raad is om slegs by die konsessiehandelaars te bly. Die meerderheid van hulle voorraad is inruilvoertuie en hulle het ’n reputasie om te beskerm.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button