Local sportSport

Krieketwedstryd vir ’n goeie saak

Krieketspelers van Bela-Bela hoop om op Sondag 10 Maart talle toeskouers langs die veld te sien wanneer die plaaslike Strikers- en Lions-krieketspanne mekaar die stryd op Hoërskool Warmbad se veld aansê.

Die sportdag het egter meer om die lyf as net manne wat van energie ontslae wil raak. Die klub kombineer die wedstryd met ’n fondsinsameling projek vir ’n baie spesiale meisie, Stefani van Schalkwyk (4), die dogter van Theunis en Chantelle van Schalkwyk van Bela-Bela.

Stefani is ná haar geboorte in 2014 met Congenital Disorder of Glycosylation (GDG) Type IC gediagnoseer.

Dit is ’n ernstige genetiese toestand wat veroorsaak dat die pasiënt nie kos reg kan verteer nie en alle organe word beïnvloed. Simptome sluit in vertraagde ontwikkeling van alle stelsels, aanvalle waar die pasiënt ophou asem haal, oogafwykings en gastro-nomiese simptome soos braking en diarree.

Morné Odendaal van die plaaslike krieketklub het gesê dié vriendskaplike wedstryd word op T20-krieketreëls gebaseer waar die twee spanne die geleentheid het om elk 20 beurte te speel.

Die publiek en sakeondernemings word vriendelik genooi om betrokke te raak deur byvoorbeeld ’n bedrag te skenk vir elke lopie, grenshou, ses, been-voor-paaltjie, uitvang of ’n paaltjie wat tuimel. Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir Stefani se sorg.

“Ons as oudinwoners het gevoel dat hierdie wedstryd baie kan beteken vir Stefani en ons hoop om baie mense daar te sien wat kan bydra,” het hy gesê.

Ander organisasies en sportklubs het ook die afgelope paar jaar die Van Schalkwyks bygestaan om Stefani se lewe te verge-maklik en om die astronomiese mediese koste te help dek.

Haar ouers het vroeër aan Die Pos gesê hulle hou aan glo en bid dat daar eendag ’n doeltreffende behandeling teen die siekte sal wees.

Intussen doen hulle daagliks terapie, oefeninge en stimulasie en volgens Chantelle kan hulle reeds ’n verbetering by Stefani opmerk.

Die wedstryd vind om 12:00 op Sondag 10 Maart plaas en word aangebied in samewerking met die krieketklub en die Limpopo Field Guide Academy. Almal is welkom.

Vir navrae kan mense vir Lientjie Stavrakis bel by tel. 072 665 2752 of tel. 072 625 4709. Stuur vir haar e-pos na linky@limpopotraining.co.za(.) Mense kan ook vir Morné Odendaal bel by tel. 083 208 1008.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button