Waterberg se room van die oes wys hul staal by 56ste Bosveld Interhoër
Die 56ste Bosveld Interhoër-atletiekbyeenkoms waar sewe skole se atlete mekaar op Saterdag 23 Februarie op Hoërskool Warmbad se terrein die stryd aangesê het, was ’n groot sukses.
Hoërskole Ben Viljoen, Ellisras, Frikkie Meyer, Hans Strijdom, Nylstroom, Piet Potgieter en Warmbad het vroeg die oggend in volle kleur opgedaag. Die dirigente van elke skool het ná die opening hul passies uitgevoer en leerders aangepor om die gesogte sangbeker te wen.
Hoërskool Ellisras het uiteindelik as wenners uit die stryd getree nadat hulle atlete 663 punte versamel het.
Frikkie Meyer (638) was tweede, Ben Viljoen derde (607), Piet Potgieter vierde (589), Nylstroom vyfde (522), Warmbad sesde (472) en Hans Strijdom sewende (432).
Frikkie Meyer het vanjaar met die sangbeker weggestap. Ben Viljoen was tweede en Warmbad derde.
Die gasheerskool, Hoërskool Warmbad, was veral in hul skik met die verowering van die prestasiebeker. Hans Strijdom was verlede jaar die wenner van dié toekenning.
Die atleet van die dag was Tiaan Gerritsen van Ben Viljoen wat 2 553 punte op die Absa-tabel behaal het met sy drie beste items.
Die beste baanatleet van die byeenkoms was Kobi Erasmus van Ellisras wat in die 400 m hekkies vir meisies o.17 uitgestaan het en 948 punte op Absa-tabel verdien het.
Die beste veldatleet was Jadrin van Blerk, ook van Ellisras, met 1 010 Absa-punte nadat hy in die hoogspring vir seuns o.14 uitgeblink het.
Die o.19-aflosse, die laaste item van die dag, het weer groot opwinding veroorsaak met Ellisras se meisie- en seunspanne wat eerste oor die wenstreep gehardloop het. In die seunswedloop was Frikkie Meyer in die tweede plek en Piet Potgieter ’n kortkop agter hulle.
Die meisies het die bordjies verhang en Piet Potgieter was in die tweede plek met Frikkie Meyer derde.
Die meisiespan van Hoërskool Ben Viljoen het die meeste punte behaal en Hoërskool Ellisras het die seunskompetisie gewen, Piet Potgieter was tweede en Frikkie Meyer derde.
Vir Liddle kon die interhoër nie beter afgeloop het nie.
“Ek vertrou dat die geleentheid ons gemeenskap nader aan mekaar gebring het en dit almal nuwe hoop sal gee om trots te wees op ons skool, ons leerders en atlete,” het hy gesê.
“Ek dink almal wat deel was van die reëlings, is fenominaal en ons gaan volgende jaar die ander skole gas gee.”
Liddle is verder dankbaar teenoor die Here se genade en staan daarop vas dat die Bela-Bela-gemeenskap geseën sal bly in die toekoms.