Local newsNews

Einde van ’n era vir bekende Challenger-waentjies

“Die vervaardiging van waentjies het sedert 2012 jaarliks verminder tot op die punt waar dit glad nie meer lewensvatbaar was of sin gemaak het om aan te hou sake doen nie.”

Inwoners van Mookgophong het met hartseer en skok verneem dat die bekende sleepwaentjievervaardiger, Challenger Trailers, sy deure op Maandag 11 Februarie gesluit het.

Die maatskappy is landwyd bekend vir sy sleepwaentjies en die onderneming was ’n bekende landmerk in die hoofstraat van Mookgophong. Challenger Trailers was ook vir baie jare ’n groot bron van werkskepping in die gemeenskap. Die Pos verneem dat die onderneming 107 werknemers in diens gehad het.

Challenger Trailers was deur die jare ’n ekonomiese inspuiting in Mookgophong. Volgens inwoners was hul harte en hande altyd oop vir verdienstelike projekte in die gemeenskap.

’n Werknemer, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê werkers het in Februarie 2017 verneem dat die maatskappy einde Februarie 2017 sy deure sou sluit en werknemers uit diens gestel sou word.

Dié situasie is egter voorkom met die verkoop van Challenger Trailers. Die nuwe bestuur het die bestaande personeel se kontrakte oorgeneem en almal het hul werk behou.

Volgens die huidige eienaar, Johann Hoffman, het hy matelose pogings aangewend om die onderneming lewensvatbaar en wins-gewend te hou, maar die landwye afwaartse ekonomie het sy tol geëis. Hy het aan Die Pos gesê die land se krimpende ekonomiese situasie het Challenger Trailers in ’n geldelike wurggreep gekry en dat daar nie enige groeivooruitsigte vir die onderneming was of is nie.

“Die vervaardiging van waentjies het sedert 2012 jaarliks verminder tot op die punt waar dit glad nie meer lewensvatbaar was of sin gemaak het om aan te hou sake doen nie. Die vervaardigingskoste en oorhoofse uitgawes het bloot te hoog geword en alle pogings om dit teen te werk, was tevergeefs,” het hy gesê.

Hy het gesê die hoë arbeidskoste, lae volumes verkope en abnormale klein winsgrense het Challenger Trailers in ’n diep “gat” laat beland en dat moontlike likwidasie onvermydelik is.

  • Die alombekende Venter-sleepwaens is in 1965 in die destydse Naboomspruit deur Jasper Venter begin en het in 2002 na Roodepoort verskuif. Challenger Trailers het toe ontstaan en hulle het begin met die ver-vaardiging van sleepwaens in Mookgophong.

Related Articles

Back to top button