CrimeNews

Misdaad neem toe by oord

Inwoners van die gewilde Tuintuiste-aftreeoord in Bela-Bela, is bekommerd nadat inbrake by wonings in dié veiligheidsoord die laaste drie weke skerp toegeneem het.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie het vier inbrake onderskeidelik op Woensdag 30 Januarie, Saterdag 2 Februarie en Dinsdag 12 Februarie binne die omheinde grense van Tuintuiste plaasgevind.

Huishoudelike items, klere en juwele is onder meer gebuit en in die meeste van die gevalle was die eienaars nie tuis tydens die inbrake nie.

Tuintuiste bestaan uit twee woongebiede, Tuintuiste 1 en 2. Die eenhede is in twee fases opgerig en die terrein is in twee gedeel. Tuintuiste grens aan Laerskool Warmbad se sportterrein aan die een kant, Spa Park aan die agterkant en Koppewaai, die informele nedersetting op die Alma-pad net buite die dorp, vorm die derde grens.

Charles Weber, voorsitter van Tuintuiste 2 se beheerliggaam, het by navraag gesê die oord het ’n ordentlike veiligheidshek en is goed omhein, maar nalatigheid is moontlik die oorsaak van die inbrake. Die hoofhek kan slegs oopgemaak word wanneer ’n inwoner die hek met ’n veiligheidskontrole oopmaak.

“Iemand het bloot sonder toestemming Tuintuiste se terrein betree en het presies geweet wanneer om die onderskeie eiendomme te teiken,” het Weber gesê. “Ons is besig om ’n stelsel te ontwikkel wat misdaad sal bekamp, maar daar is ’n sterk vermoede dat die verdagtes inligting van iemand wat vertroud is met die daaglikse roetines van inwoners, ontvang het.”

Hy raai inwoners aan om versigtig te wees en uit te kyk vir verdagte aktiwiteite.

Die polisie ondersoek die sake.

Related Articles

Back to top button