CrimeNews

Skelms moet tronk toe

’n Plaaslike wildboer was in 2016 een van sy slagoffers en het R20 000 verloor nadat hy ‘n deposito betaal het vir buffels wat op die internet geadverteer is.

Internetbedrieër Jaco Opperman is vandeesweek in die streekshof in Modimolle tot vier jaar tronkstraf gevonnis.

Opperman is skuldig bevind aan drie klagtes van diefstal nadat hy mense landwyd met internetslenters gevang het. ’n Plaaslike wildboer was in 2016 een van sy slagoffers en het R20 000 verloor nadat hy ‘n deposito betaal het vir buffels wat op die internet geadverteer is, waarna Opperman tussen neus en ore verdwyn het nadat die betaling gemaak is.

Hy het glo verskeie skuilname gebruik.

Opperman, wat in sy dertigs is, het die speurders van Modimolle wye draaie laat loop om hom vas te trek.

Hy was aanvanklik in die Kaap, maar is later in eMalahleni (Witbank) aangekeer.

Hy het in September 2017 die gereg ontglip toe hy R500 borggeld ná ’n hofverskyning betaal en na sy vryheid geloop sonder dat die landdros borgtog toegestaan het.

Hy is uiteindelik weer by ’n vriendin se huis in Potchefstroom vasgetrek.

Dié het beweer dat sy nie van sy skelmstreke bewus was nie en hom as Herman Calitz geken het.

  • Bodia Gumbo (33), ’n onwettige immigrant wat met 19 sake van huisbraak verbind word, is op Dinsdag 12 Februarie in die Modimolle-streekshof tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

    Gumbo, wat ook die naam Johannes Edgar gebruik het, is verlede Oktober laatnag by sy huis in Mamelodi-Oos vasgetrek en vermoedelik gesteelde goedere is in sy besit gevind.

    Hy word verbind met ‘n inbraak by ’n trouvenue buite Modimolle, sowel as inbrake in Lephalale en die Dorset-omgewing.

    Gumbo is in 2010 op verskeie aanklagte van huisbraak gevonnis tot 12 jaar tronkstraf. Hy is in 2015 op parool vrygelaat en na Zimbabwe gedeporteer, het die polisie gesê. Slegs ’n jaar later is sy vingerafdrukke weer op misdaadtonele in Suid-Afrika gevind.

Related Articles

Back to top button