NewsSchools

Bosveldspruitjies se Juffrou Jorita kyk terug

“Ek het die aflosstokkie met ’n lekker hart oorgegee.”

Só sê Bosveldspruitjies Kleuterskool in Bela-Bela se “Juffrou Jorita” (Burger), wat einde verlede maand ná 38 jaar in die onderwys afgetree het.

Wat Burger (60) se storie so merkwaardig maak, is dat sy die hele 38 jaar by net een skool en onder een hoof (Christa Snyman) skoolgehou het.

Dit was seker onvermydelik dat sy ’n onderwyser sou word, vertel sy op haar sonstoep in Reitzstraat, want haar ouers was albei geswore opvoeders.

Sy het kleuteropvoeding aan die destydse Normaalkollege in Pretoria studeer en is ná haar studies met vakansie oorsee. Intussen het haar oorlede pa, dr. Chris Grimbeek, van ’n pos by die toe nog Kleuterskool Warmbad te hore gekom en sommer namens haar besluit dat sy beslis moet aansoek doen vir die werk.

Die jonge juffrou is vol sterre in die oë “Warmbad” toe, waar sy in ’n woonstelletjie in die dorp ingetrek het. “Ek het nie eens geweet waar die skool is nie en my huiswerker het die middag saam met my straat-af gestap om my te wys waar dit is,” vertel sy.

Kort daarna het sy saam met nóg ’n onderwyser wat jare lank saam met haar skoolgehou het, Margaretha Alberts, in ’n woonstel in Andréhof in Kretschmarlaan ingetrek.

Sy het kort daarna haar trouman, Nico Burger, ontmoet. Deur die jare het haar man en kinders, Jurgens en Maatje, net so betrokke by die skool geraak. “Oom Nico” het gereeld vir die kinders springmielies gemaak of gehelp met leermateriaal vir die klasse. Jurgens het weer foto’s by die skool geneem of Kersvader by partytjies gespeel en Maatje se kunstenaarshand en poppekasvoorstellings was alombekend.

Volgens Jorita was dit vir haar niks vreemds om later kinders in haar klas te hê vir wie se ouers sy klasgegee het nie. “Dit was ook baie spesiaal om mettertyd Jurgens en Maatje se skoolmaats se kleingoed in my klas te hê.”

Volgens Jorita het sy lieflike herinneringe van Bosveldspruitjies waarmee sy haar aftrede koester.

Sy is veral baie trots op die manier hoe dié skool in die negentigerjare al die veranderinge en uitdagings van die Nuwe Suid-Afrika aangegryp en omarm het. “Daar is die mooiste kultuur van ubuntu by die skool,” vertel sy.

Van die lekkerste ervarings as onderwyer was vir haar as daar skaam kinders is wat ontluik.

“Ek onthou met deernis die wonderlike kenmekaaraande, die ouerbetrokkenheid en die baie lag by die skool. As ’n mens elke dag die humor in dinge raaksien, sien jy kans vir baie.”

Sy praat met die grootste lof van Snyman, wat al vier dekades aan die stuur van sake by Bosveldspruitjies staan. “Dit was ’n voorreg om haar as hoof te hê. Sy is ’n werkwaardige vrou.”
“Ek is gelukkig,” sê sy en vee onthoutrane af.

“Almal vra my wat gaan ek nou doen,” sê sy, “maar daar is nie tans baie nuwe planne nie.”

Related Articles

Back to top button