LettersOpinion

Êrens is daar ’n slang in die gras

Waar gaan ons die streep trek? Hoe kan ons die plaaslike munisipaliteit se samewerking bekom en hul loof vir goeie dorpsbestuur as ons dorp uitmekaar val?

Ontevrede belastingbetaler, Bela-Bela, skryf:

Dit is met ’n donker gemoed dat ek my na die pen wend.

In my 70 jaar was ek nog altyd positief en sien ek die silwer randjie om elke donker wolk, maar die afgelope paar jaar begin my positiewe uitkyk verander en vind ek dikwels myself in bepeinsing oor die aftakeling van ons pragtige land en nog nader aan my hart, ons eens skone Bosvelddorp.

Waar gaan ons die streep trek? Hoe kan ons die plaaslike munisipaliteit se samewerking bekom en hul loof vir goeie dorpsbestuur as ons dorp uitmekaar val?

Fondse wat gegenereer word uit ons belastingbetalers se sakke, word nie teruggeploeg in die infrastruktuur nie, want dan sou ons al ’n verskil gesien het. Gaan ons belastinggeld net vir amptenare se salarisse en ruim toelaes? Indien dit die geval is, moet hulle (die amptenare) dan nie die hand wat hul voed oppas nie? Die teendeel is egter waar, want in ons plaaslike munisipale departemente is swak diens aan die orde van die dag.

Moet hul verhoging kry op ons onkoste? Is die konsep van verhoging nie juis ’n aansporing en beloning vir goeie werk gelewer nie? In baie min werkskontrakte is dit ’n gegewe; dit is ’n voorreg wat die werkgewer goedgunstiglik aan werknemers toeken.

Ek verstout my om te sê dat die munisipale amptenare bo en behalwe ’n jaarlikse verhoging ook prestasie bonusse ontvang. Wie bepaal die kriteria van uitnemendheid? Beslis nie die belastingbetaler nie.

Voordat ons nie wanadministrasie en selfverryking vervang het met eerbaarheid, dienslewering en onwrikbare norme nie, is en bly die prentjie donker.

Maar die voorreg om in die Bosveld te woon, bly die deurslaggewende faktor en is steeds die handrem om die meubelvervoerwa te bestel en saam met my maters die groen weivelde van die Wes-Kaap op te soek.

Related Articles

Back to top button