Local newsNews

Groot ou enjins gaan weer brul op die Springbokvlakte

Die groot gebrul van antieke trekkers op die Springbokvlakte het verlede jaar soveel belangstelling gelok dat die Settlers-veteraanklub vanjaar weer ’n veteraantrekker en -enjin opedag aanbied.

Demonstrasies van ou trekkers en enjins uit toeka se dae word by die klub op Settlers gehou en die hele gesin kan hul gaan vergaap aan die ou masjiene waarvan die meeste dateer uit die tydperk van 1929 tot 1960. Daar sal kosstalletjies en ’n kontantkroeg beskikbaar wees.

Uitstallers kan reeds hul enjins en trekkers vanaf Vrydag 15 Maart aflaai en is welkom om op die terrein te kampeer. Trekker-geesdrigtiges en nuuskieriges kan hulle die Saterdag 16 Maart vanaf 09:00 tot 16:00 verkyk aan die ou werkesels. Daar sal ook ’n aantal ou motors die langpad aandurf om die uitstalling by te woon.

Die klub is in 2010 deur afgetrede boere en trekker-geesdriftiges op die been gebring. Die lede, meestal afgetree, werk saam om ou enjins te restoureer. “Dit is ’n uitdaging om dié oues weer te laat werk. ’n Mens moet eers probeer uitwerk hoe die bouer die enjin wou laat werk het, voordat jy dit kan herstel. Daar is nie handleidings daarvoor beskikbaar nie en dit verg kopkrap!” het Robbie Weir van die klub gesê.

Vir meer inligting oor die opedag, bel vir Hannes van Heerden by tel. 082 651 2885 of vir Pieter Lubbe oor stalletjies by tel. 073 197 3252.

Related Articles

Back to top button