Local newsNews

Motorryers moet meer tolgeld opdok

Motorryers sal waarskynlik vanjaar nóg meer moet opdok vir die voorreg om op die N1-snelweg — wat landwyd bekend staan as een van die paaie met die hoogste dodetal — te reis.

Die styging in tolgeld is in die staatskoerant van Vrydag 1 Februarie deur die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) bekendgemaak en is van toepassing op tolhekke op die N1-snelweg, die R30-pad, N2, N3, N4 en N17. Die stygings tree volgens Sanral op Vrydag 1 Maart in werking.

Motorryers wat noordwaarts na Polokwane ry, sal by die Kranskop-tolhek nou R45 (klas 1-voertuig), R114 (klas 2), R153 (klas 3) en R187 (klas 4) per voertuig betaal. Dié na Modimolle se tolgeld het van R12 na R12,50 gestyg.

By die Carousel-tolhek sal motorryers R56 (klas 1), R150 (klas 2), R165 (klas 3) en R191 (klas 4) betaal. In vergelyking met die 2018-heffings is dit onderskeidelik met R3, R8 en R9 aangepas.
Die Pumulani-tolhek, die laaste tolhek voor Pretoria suid van Hammanskraal, kos nou R12 (klas 1), R30 (klas 2), R35 (klas 3) en R42 (klas 4).

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het by navraag gesê toeriste sal waarskynlik nie veel omgee oor die stygings nie, maar motorryers wat gereeld tydens langnaweke en skoolvakansies ure lank in die rye by die tolhekke wag, sal beslis vies wees hieroor. Die N1 word beheer deur die padagentskap Bakwena.

“Die padagentskappe kan nie net aanhou oes by die padgebruiker terwyl tolhekke mense gedurig ophou nie.

Indien die diens by tolhekke verder versleg, word toerisme — Limpopo se lewensaar — afgesny,” het hy gesê. Hy het Bakwena nogtans geloof omdat hulle gereelde instandhoudingwerk op die N1 verrig.

’n Versoek is reeds in Mei 2018 by die maandelikse plaaslike veiligheidsvergadering by die Bela-Bela-polisiestasie gerig dat meer tolhekke op spitstye open en dat motorryers in dié tye gratis deur die tolhekke mag gaan.

’n Vergadering is vir Woensdag 13 Februarie by die polisiestasie tussen rolspelers en verteenwoordigers van Bakwena belê om oor die aangeleentheid, asook ander probleme op die snelweg, te gesels.

  • Die gewysigde tolhekheffings kan op Sanral se webtuiste by www.nra.co.za besigtig word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button