Local newsNews

Trok slaan om nadat taxi vol leerders glo onverwags rem

Die minibus, wat blykbaar daagliks skoolkinders op hierdie roete vervoer, het nie ná die ongeluk stilgehou nie en in die rigting van die township verdwyn.

’n Vragmotor van Westpack Lifestyle wat onderweg was na Bela-Bela het op Donderdagoggend 7 Februarie om 07:00 op die R516-pad tussen Settlers en Bela-Bela omgeslaan nadat ’n minibustaxi wat na bewering leerders vervoer het, glo skielik voor die vragmotor remme aangeslaan het.

Die minibus wou blykbaar by die eerste afdraai na die Bela-Bela-township (in die rigting van die dorp) afdraai. Die trokdrywer, wie se naam onbekend is, het aan die polisie gesê hy het alles uitgehaal om nie in die agterkant van die minibus vas te ry nie en het uitgeswaai. Die trokdrywer het toe beheer oor die voertuig verloor en dit het toe oorkant die terrein van die Towoomba landbounavorsingstasie omgeslaan. Die plaaslike verkeersafdeling was gou op die toneel.

’n Veiligheidswag van Towoomba het aan Die Pos gesê dat hy die ongeluk gesien gebeur en hom na die toneel gehaas het. Hy het ook op die toneel aan Die Pos gesê dat hy gesien het hoe die trok vir die taxi moes uitswaai. Hy het na remmerke op die pad gewys om sy vertelling te staaf.

Die trokdrywer het volgens hom self ná die ongeluk uit die kajuit geklim.

Die minibus, wat blykbaar daagliks skoolkinders op hierdie roete vervoer, het nie ná die ongeluk stilgehou nie en in die rigting van die township verdwyn, het die veiligheidswag gesê.

Die trokdrywer is per ambulans na die Warmbad-hospitaal geneem waar hy ondersoek is en vir ligte beserings behandel is.

Die polisie ondersoek ’n saak van roeke-lose en nalatige bestuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button