CrimeNews

Oproeriges met hofbevel gestuit

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is verlede week vir drie dae lank deur ’n groep ontevrede inwoners tot ’n stilstand gedwing.

’n Raadsvergadering wat op Woensdag 6 Februarie sou plaasvind, kon nie voortgaan nie toe sowat 20 mense die raadsaal binne-gedring het en eise oor die toeken van tenders aan die burgemeester en raadslede gestel het.

Die munisipale hekke was vir drie dae ná die voorval gesluit vir die publiek omdat die ontevrede groep oproeriges glo personeel verhoed het om hul werk voort te sit.

Die munisipaliteit het hul na die Polokwane-hooggeregshof gewend en ’n dringende hofbevel is op Vrydag 8 Februarie toegestaan. Ingevolge die bevel, wat deur regter Gerhard Muller uitgereik is, is die groep belet om enige munisipale eiendom te betree of om personeel te intimideer. Hulle mag ook nie binne ’n radius van 2 km van enige van die munisipale geboue vergader nie.

Die Phagameng Business Forum, James Khoza, die minister van polisie en die stasiebevelvoerders van die polisie op Modimolle en Mookgophong is gelys as respondente in die hofstukke.

Die stasiebevelvoerders het opdrag ontvang om te verseker dat daar aan die hofbevel gehoor gegee word. ’n Kostebevel is teen die forum en Khoza gemaak ten gunste van die munisipaliteit.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, ondersoek die polisie die saak en sal in hegtenisnames volg sodra bewyse ingesamel is.

Verskeie lede van die groep, wat daarop aandring dat hulle nie ’n formele forum is nie, maar net ’n groep sakelui vanuit die Phagameng-gemeenskap, het gesê dat hulle tot dié aksie gedwing is deur die munisipaliteit wat hulle maande lank ignoreer.

“Ons het herhaaldelik gevra dat die munisipale bestuurder met ons vergader om na ons griewe te luister. Ons het al soveel keer vergaderings gereël, maar dan daag die bestuurders nie op nie,” het een van die groeplede, wat anoniem wou bly, aan Die Pos gesê.

“Ons is baie ontsteld omdat die munisipaliteit se tenders aan mense in Polokwane en Pretoria gegee word en plaaslike sakelui glad nie in ag geneem word nie. Dié kontrakteurs ry op hul beurt werkers van ver af aan. Ons woon hier en betaal vir dienste. Hier is soveel werkloosheid in die dorp. Hoekom kan die tenders nie aan plaaslike sakelui, wat plaaslike mense sal aanstel en ander plaaslike ondernemings sal ondersteun, toegeken word nie? Ons pleidooie val op dowe ore.”

Die groep sê senior bestuurders het vantevore al ondernemings onderteken dat plaaslike mense aangestel sal word, maar daar het niks van gekom nie.

Volgens Marlene van Staden, burge-meester, het hulle ’n lys van 15 onder-nemings van die groep ontvang. Sy het gesê dat die munisipaliteit nie net tenders kan toeken nie en dat die proses gereguleer word deur die wet op munisipale finansiële bestuur en regulasies rakende die voorsieningsketting.

“Elke individu en onderneming wat met die munisipaliteit wil sake doen, moet die korrekte prosedures volg,” het sy gesê. “Die munisipaliteit stel slegs raadgewende ingenieurs of kontrakteurs aan, wat self hul subkontrakteurs aanstel. Ons kan nie subkontrakteurs aanstel nie. Ondernemings wat sake met ’n munisipaliteit wil doen, moet geregistreer wees op die Sentrale Verskaffersdatabasis van die nasionale tesourie, sowel as die Ontwikkelingsraad vir die Konstruksiebedryf.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button