CrimeNews

Ses jaar tronk toe weens ‘jagongeluk’

Die hofsaak het ’n rasherrie tot gevolg gehad en tydens Hepburn se eerste hofverskyning was die hofsaal stampvol gepak met mense in T-hemde van politieke partye. Sy familie is ook dreigemente en beledigings toegesnou.

Die familie van die 39-jarige Stephan Hepburn het met skok, ongeloof en trane gereageer op die vonnis van ses jaar tronkstraf wat hy Dinsdag 29 Januarie in die hof op Modimolle opgelê is.

Hepburn is skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag nadat hy twee jaar gelede ’n man in ’n mielieland doodgeskiet het.

Hepburn het tydens sy verhoor voet by stuk gehou dat hy Jan Railo (23) per ongeluk op die noodlottige nag van Saterdag 11 Februarie geskiet het. Hy het aan die hof gesê dat hy en sy vrou, Anel, die aand bosvarke gejag het met toestemming van die plaaseienaar en dat werkers vooraf gewaarsku is om die mielieland dié nag te vermy.

Hy het glo beweging in die mielies gesien en ’n skoot afgevuur omdat hy gedink het dit was ’n bosvark. Hy het op Railo se liggaam afgekom en die Tuinplaas-polisie ontbied. Railo, wat op ’n naburige plaas gewerk het, is glo gevind met ’n sak mielies langs hom.

Die Pos het kort ná die voorval berig dat die Tuinplaas-polisie Hepburn toestemming gegee het om terug te keer na sy huis in Montana, Pretoria. Hy is egter die volgende aand om 20:30 by sy huis in hegtenis geneem nadat 14 gewapende offisiere sy huis bestorm en die agterdeur oopgedwing het.

Die hofsaak het ’n rasherrie tot gevolg gehad en tydens Hepburn se eerste hofverskyning was die hofsaal stampvol gepak met mense in T-hemde van politieke partye. Sy familie is ook dreigemente en beledigings toegesnou. Die nasionale media het ook oor die voorval berig.

Die nasionale vervolgingsgesag het die moordklag teen Hepburn in September daardie jaar na ’n klag van strafbare manslag verander. Bemiddeling tussen Hepburn en die oorledene se familie was nie suksesvol nie.

Landdros Peter Manthata het in sy uitspraak gesê dat Hepburn nie genoegsame berou getoon het nie.

“Hy het nie self ter strafversagting getuig en sodoende die hof in sy vertroue geneem nie,” het hy gesê.

Daar is in ag geneem dat hy ’n eerste oortreder is en vier kinders het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button