MunicipalNews

Rioolprobleme se dae (hopelik) getel

Oor die rioolplaas wat nie teen volle kapasiteit funksioneer nie, het Van Staden op die vergadering gesê dat geld wat daarvoor begroot is, is weens vorige wanbesteding deur die provinsie teruggeneem.

Dit klink asof daar binnekort werk gemaak gaan word van die rioolprobleme in Modimolle.

Berigte van rou riool en bloederige water van die slagpale wat maande lank reeds in die Klein Nylrivier stroom, het die afgelope paar weke opslae gemaak en inwoners het ontsteld gereageer.

Marcel Maritz, die VF Plus-leier in Limpopo, het strafregtelike klagtes ingedien teen die munisipale bestuurders van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en die Waterberg-distriksmunisipaliteit, asook die bestuurder van die slagpale.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het tydens ’n gemeenskapsvergadering op Dinsdag 29 Januarie aan inwoners gesê hulle kyk daarna om die 250 mm pyplyn wat in 2006 geïnstalleer is weer in gebruik te neem. Dié pyplyn het kort nadat dit geïnstalleer is, in onbruik geraak nadat die pomphuisie geplunder is.

Die ou pyplyn, wat 110 mm breed is, is daarna weer gebruik, maar dié lyn het glo nie die houvermoë om die slagpale, die groot vleisverwerker Meatrite en die AS Salaam-woonbuurt se riool te hanteer nie.

“Ons sal dié week reeds kyk of die 250 mm-pyplyn weer gebruik kan word deur dit skoon te spuit. Indien die pompe vervang word, sal die riool vinniger tot by die rioolwerke gepomp kan word,” het Van Staden gesê.

Die munisipaliteit het die afgelope week die rioollyne wat probleme gee met ’n hoë drukspuit skoongemaak en talle van die mangate loop nie meer oor nie. Tydens ’n besoek van Die Pos aan die nywerheidsgebied was die rioollek langs die slagpale ook herstel.

Oor die rioolplaas wat nie teen volle kapasiteit funksioneer nie, het Van Staden op die vergadering gesê opgraderings is vir die 2018-boekjaar beplan, maar geld wat daarvoor begroot is, is weens vorige wanbesteding deur die provinsie teruggeneem. Die nasionale tesourie se forensiese ondersoek wat die munisipaliteit se geldsake bekyk, het volgens haar ook hierdie probleem ondersoek.

“Ons het reeds ’n kontrakteur aangestel wat binnekort sal begin werk,” het sy inwoners gerus gestel.

Die groot gat wat in Paul Krugerstraat ontstaan het nadat ’n rioolpyp in Mei verlede jaar herstel en nooit toegegooi is nie, sou ook reeds dié week aandag gekry het. Die water sal uitgepomp word.

“Ons het gruis bekom waarmee ons die gat sal opvul,” het Van Staden gesê. “Ons gaan ook die Jasnia-woonstelle besoek om te kyk wat die gereelde rioolprobleme veroorsaak. Ons bring kundige mense saam sodat ons ’n langtermynoplossing vir die probleme kan vind.”

Een van die ander groot kwelpunte in die dorp is die swak toestand van die pad in die nywerheidsgebied.

“Dit is hoog op ons voorkeurlys. Ons moet egter besef dat ons nie maklik geld vir die herstel daarvan sal ontvang nie. Ons het in Desember met sakelui vergader om na ander oplossings te soek en kyk na ’n openbare privaat vennootskap om die pad te herstel. Ons oorweeg dit om die teer te lig en dit vir eers ’n grondpad te maak wat later geplavei kan word. Teer is baie duur,” het sy gesê.

Talle inwoners in die vol saal het indringende vrae gevra oor die voortslepende probleme in die dorp.

Van Staden en DA-raadslid Johann Abrie het weer verduidelik dat Van Staden nie ’n uitvoerende burgemeester is nie en dus nie die mag het om opdragte aan die administratiewe afdeling te gee nie en op ander maniere te werk moet gaan om probleme opgelos te kry.

Inwoners wou weet wat gedoen word om munisipale amptenare verantwoordelik te hou.

Van Staden het voorgestel dat die vergadering maandeliks gehou word om inwoners op hoogte te hou van die vordering.

Related Articles

Back to top button