CrimeNews

‘Daggaboer’ kom lig daarvan af

Mense wat dagga op straat of in openbare plekke gebruik of besit, kan steeds in hegtenis geneem word.

’n Man van die Noodhulphoewes buite Bela-Bela het heel lig daarvan afgekom toe die polisie op Donderdag 17 Januarie op ’n land van sowat 1,5 hektaar aangeplante dagga op sy eiendom afgekom het.

Die man het dié klein plantasie blykbaar self aangeplant.

Wetstoepassing rondom die gebruik en aanplant van dagga het sedert verlede jaar in die kollig gekom toe die grondwethof bevind het dat die privaat gebruik van dagga voortaan wettig is. Tog kla landsburgers toenemend dat dwelms reuseprobleme vir gemeenskappe veroorsaak.

Die man, wie se naam aan Die Pos bekend is maar op regsadvies eers voorbehou word, het volgens die polisie die grond gehuur. Hy is aanvanklik aangekla vir die verspreiding, kweek en besit van dagga.

Hy sou na verwagting in die Bela-Bela-landdroshof op dié aanklagte verskyn het, maar teen druktyd kon die hof geen rekord toon van sy verskyning nie.

Die polisie het egter gesê dat die man ’n skulderkenningsboete van R500 moes betaal en toe vrygelaat is.

Kol. Lindie Marx, Bela-Bela-polisie-bevelvoerder, het by navraag gesê sedert dit wettig geword het dat mense dagga by hul wonings mag gebruik, het dit ’n demper op die polisie se werk geplaas. Sy het gesê ’n mens moet in ag neem dat Bela-Bela een van die dorpe met die grootste dwelmprobleme in die provinsie is.

“Die wet bepaal egter dat die grootskeeps kweek van dagga nie beskou kan word as vir persoonlike gebruik nie,” het Marx gesê. “Daar is ongelukkig geen uitsluitsel oor die hoeveelheid wat mense mag besit nie, maar ons verneem dat ’n wettige hoeveelheid nie meer as vyf 20 gram pakkies mag oorskry nie.”

Sy het benadruk dat mense wat dagga op straat of in openbare plekke gebruik of besit, steeds in hegtenis geneem kan word.

Sy het verder gesê dat daggarokers ook met die gereg te doen gaan kry indien hulle onder die invloed van die dwelm ’n voertuig op openbare paaie bestuur.

Die plaaslike dwelmprobleem is kortliks tydens die eerste munisipale raadsvergadering van die Bela-Bela-munisipaliteit bespreek.

Die raadslede het op die vergadering eenparig saamgestem dat proaktiewe optrede beslis in die omgewing nodig is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button