LettersOpinion

Gaan trek jou kruisie en maak só ’n verskil in Suid-Afrika

Die algemene verkiesing wat oor vier maande plaasvind, kan ’n maak- of breeksituasie in Suid-Afrika tot gevolg hê.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:

Die politieke klimaat in die land verander daagliks.

In ’n land waar korrupsie telkens nuwe hoogtepunte bereik, nepotisme aan die orde van die dag is en swak dienslewering die norm is, voel verantwoordelike landsburgers die druk om ’n besluit te neem wat hierdie skip kan laat draai. Die alternatief is dat almal oor dieselfde afgrond gaan tuimel.

Die algemene verkiesing wat oor vier maande plaasvind, kan ’n maak- of breeksituasie in Suid-Afrika tot gevolg hê. Indien die oorweldigende meerderheid van die regerende party verminder word tot 50%, is die moontlikheid daar om deur koalisie van opposisiepartye ’n nuwe regering te vorm. In ’n neutedop is hierdie die rede waarom die verkiesing van 2019 van deurslaggewende belang is.

Ten spyte van ’n moontlike oplossing vir landsprobleme, is daar steeds kiesers wat onverskillig teenoor die stemproses staan. Hierdie kiesers is van mening dat hulle geen magte aan die regerende party gee deur nie te stem nie en dat ’n wegblystem tot nadeel van hierdie party is. Daarby meen hulle dat hulle geen bydrae maak deur vir ’n kleiner party te stem nie.

Die kiesstelsel kan met ’n skaal vergelyk word. Aan die een kant is die regerende party met ’n oorweldigende meerderheid en aan die anderkant die ander partye. Indien die sterkste party ses muntstukke verteenwoordig en die opposisiepartye vier, het die sterkste party ses uit tien oftewel 60%. Gestel een van die opposisiepartye onttrek, verander die situasie en kry die reeds sterker party ’n muntstuk by sonder dat hulle ’n vinger verroer het. Met ander woorde: die party wat nie gaan stem nie, versterk die regerende party al het die party nie ’n muntstuk bygekry nie. Die fynskrif is: jou stem maak ’n verskil.

Gedurende die 2014 verkiesing het 27% geregistreerde kiesers nie gaan stem nie. Die gevolg hiervan is dat die land regeer word deur ’n party met ’n mandaat van slegs 31,18% van potensiële kiesers. Toe was daar eweneens individue wat van mening was dat een stem nie ’n verskil kan maak nie.

Indien elke kieser sy of haar plig doen, is dit moontlik om die ANC se magsbasis te verklein. Terselfdertyd kan kleiner partye die belange en waardes van hul kiesers in die groter speelveld verdedig. Dit is nie wat Suid-Afrika vir jou kan doen nie, maar wat jy kan doen om ’n verskil te maak.

Related Articles

Back to top button