BlogsOpinion

Hoofartikel: Plaaslike haan kraai koning

As dit nie ’n mens se eie Jan of San is wat so mooi op die foto glimlag nie, is dit buurvrou se Lien of buurman se Fanie wat ewe trots in die koerant pronk — dis mos mense wat jy ken!

Plaaslike ondersteuning is ’n verbruikerstendens wat nie net in die ekonomie geld nie — ook in die mediabedryf kraai die plaaslike haan blykbaar koning.

Mediahuise, met plaaslike koerante in hul stal, huldig al vir baie jare die standpunt dat lesers wêreldwyd plaaslike nuus en advertensies bo nasionale én internasionale inhoud verkies.

Dié standpunt word natuurlik gerugsteun deur navorsing wat gedoen word deur instansies wat spesialiseer in verbruikersgewoontes in die mediawêreld.

Wat is nou per slot van rekening lekkerder as om nuus uit ’n mens se eie dorp oor jou eie mense te lees? Die artikel in die plaaslike koerant oor die kerkbasaar met die watertandeetgoed en poedingtafel laat die meeste mense se monde meer water as selfs die mees gesofistikeerde dis op Masterchef. Boonop is deelname aan Masterchef beperk tot ’n paar uitverkorenes — almal kan die kerkbasaar bywoon.

En dit maak ’n mens se hart warm om die lief en leed van die dorp se plaaslike skole op die skolebladsye raak te lees. Want as dit nie ’n mens se eie Jan of San is wat so mooi op die foto glimlag nie, is dit buurvrou se Lien of buurman se Fanie wat ewe trots in die koerant pronk — dis mos mense wat jy ken!

Ook in die digitale ruim blyk die neiging om plaaslik te ondersteun, gewild te wees. En Die Pos-koerant kan sommer al vroeg in die nuwe jaar met hul digitale vere pronk.

Dié koerant se webtuiste is deel van ’n groter digitale platform wat bekend staan as Caxton Local News Network (LNN) waarvan 82 plaaslike koerante se webtuistes deel is. Altesame 250 joernaliste lewer daagliks bydraes om die brekende nuus in hul dorpe en omgewing op ’n betroubare en verantwoordelike wyse aan lesers op die LNN-platform deur te gee.

LNN is in Januarie 2019 deur die Interactive Advertising Bureau (IAB) aangewys as die digitale nuusplatform met die vyfde meeste besoekers in Suid-Afrika. LNN spog met 2,8 miljoen ongedupliseerde lesers (browsers) en meer as 8,8 miljoen bladsybesoeke (page views) per maand.

LNN word hoofsaaklik gevoed met nuus en promosiemateriaal wat uitsluitlik gemeenskapsgedrewe is.

Vir Die Pos en sy susterskoerant, The Beat, wat ook deel van LNN is, beteken bogenoemde statistieke rede om te spog. Vir die koerante se lesers beteken dit dat hulle deur Die Pos se webtuiste op hoogte kan bly van die jongste nuusgebeure in hul dorpe, asook spesiale aanbiedinge by plaaslike sakeondernemings — sommer so deur die loop van die dag op hul selfone.

Maar dit is veral die twee koerante se adverteerders wat uiters opgewonde behoort te wees oor die moontlikhede wat die LNN-platform kan bied. Saam met die gedrukte koerant, bied die digitale blootstelling op LNN aan adverteerders ’n baie groter voetspoor om hul produk, ook buite die grense van ’n dorp of streek, bekend te stel.

Related Articles

Back to top button