CrimeNews

Bomdeskundige sterf in Jemen-ontploffing

Die span deskundiges was besig om landmyne na ’n afgeleë gebied te verskuif om vernietig te word, toe een landmyn ontplof en ’n kettingreaksie veroorsaak het.

’n Familie van Modimolle is in rou nadat Pieter Schoeman (45) die afgelope week in ’n bomontploffing in Jemen oorlede is.

Vyf bomdeskundiges is op Sondag 20 Januarie dood nadat landmyne wat hulle vervoer het om vernietig te word, ontplof het. Twee Suid-Afrikaners was deel van die span. Ander lede van die deskundige span is afkomstig van Kosovo, Kroasië en Bosnië.

Die span deskundiges was besig om landmyne na ’n afgeleë gebied te verskuif om vernietig te word, toe een landmyn ontplof en ’n kettingreaksie veroorsaak het. Volgens ’n ooggetuie het die ontploffings ’n halfuur lank geduur, het die familie gesê.

Schoeman werk die afgelope maand op Projek Massan van Saoedi Arabië om landmyne te verwyder wat deur die Houti-rebelle geplant is. Hulle het sedert 2017 reeds sowat 37 000 landmyne verwyder, is aan Die Pos gesê.

Schoeman, ’n spesialis wat myne verwyder en onskadelik stel, was ’n gekwalifiseerde topvlak EOD (Explosive Ordnance Disposal) mynadviseur en het opleiding by onder meer Denel en Kenya Macc Minetech ontvang. Hy het sedert 2005 in oorloggeteisterde gebiede soos Ethiopië, Irak, Iran en Koerdistan gewerk.

Schoeman laat sy vrou Nandi, hul 19-jarige tweeling Morné en Donovan en hul 10-jarige dogtertjie Nina agter.

’n Verpletterde Nandi het aan Die Pos gesê dat sy nie die hartseer kan beskryf om nie ’n liggaam te hê om te begrawe nie, maar sy weet dat dit is hoe haar man dit sou wou gehad het.

Sy broer Derick Schoeman het ’n pleidooi aan die ambassadeur van Saoedi Arabië gelewer om die familie te help met die repatriasie van Schoeman se oorskot.

“Ons is bewus van die feit dat Saoedi Arabië landmynopruiming in Jemen befonds en die welsyn van die myntegnici ernstig opneem,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button