Local newsNews

Athol Trollip: ‘Almal is kwaad vir mekaar’

“Alle rassegroepe in die land is kwaad vir mekaar en daar is geen versoening nie, omdat die regering en die opposisie wegkom met dit wat hulle kwytraak.”

Mense wat nie in politiek belangstel nie, moet bewus wees daarvan dat politiek in húlle belangstel, want as hulle nie besef dat politici wette, veiligheid en geleenthede bepaal nie, “waarin stel jy dan werklik belang?”

Só het Athol Trollip, voormalige burgemeester van Nelson Mandelabaai en die huidige voorsitter van die Demokratiese Alliansie (DA) se federele raad op Donderdag 17 Januarie tydens ’n openbare vergadering in Bospoort aan Bela-Bela-inwoners gesê.

Verskillende politieke partye bring reeds van hul groot politieke kanonne na vore om stemme te werf in aanloop tot die nasionale verkiesing later vanjaar.

Ander prominente leiers wat saam met Trollip by die vergadering was, sluit in Marlene Vermaak (Modimolle-Mookgophong se burgemeester), Johann Abrie (DA-raadslid in Modimolle), Desirée van der Walt (DA LP), Lindy Wilson (LP en Waterberg-kiesafdelingshoof), Jacques Smalle (die DA se provinsiale leier en premierskandidaat), asook Christiaan Frederik Beyers Smit (DA-lid van die nasionale raad van provinsies).

Smalle het gesê vanjaar se verkiesing sal bepaal of die land verdeeld gaan wees of nie.

Trollip het tydens sy spreekbeurt gesê dat Suid-Afrikaners daadwerklike verandering verlang.

“Om in jouself te twyfel, hou ’n persoon terug. Verandering kan gebeur as jy daarna smag, maar soms moet ’n mens verhoudings prysgee om nie ’n morele standpunt prys te gee nie,” het hy gesê na aanleiding van die drama toe hy sy burgemeesterskap in Nelson Mandelabaai verloor het nadat ’n mosie van wantroue teen hom ingedien is.

Volgens hom het die party nooit ’n koalisie met die EFF gesluit nie, maar bloot ’n “reëling” met hulle gehad.

Tog het hierdie “reëling” volgens Trollip daartoe gelei dat die DA sy “vingers verbrand het”.

Hy het voorts gesê potensiaal vir vooruitgang gaan onder die ANC-regering verlore.

“Die nasionale werkskeppingsbeleid is onsamehangend, daar is nie vertroue in die huidige leierskap nie, landsburgers is bang hulle gaan hul eiendom verloor, mense is bang hulle gaan hul pensioen verloor weens gerugte dat banke genasionaliseer sal word en misdaad neem toe.

“Boonop word daar niks aan korrupsie gedoen nie,” het Trollip gesê.

Trollip was uitgesproke oor die uitbreek van bek-en-klouseer in Limpopo en die invloed daarvan op die land se ekonomie. Voorts het hy gesê dit wil voorkom asof aanvalle op wit én swart boere al hoe meer gewelddadig raak.

Buitelanders van buurlande se “vrye toegang” tot Suid-Afrika skep verdere probleme, het hy gesê.

Dit is volgens hom nodig dat Suid-Afrika soewereiniteit oor sy landsgrense moet hê. Ook dat grondonteiening sonder ver-goeding nooit moet geskied nie.

“As die plaaslike en nasionale landbou-bedryf verkrummel, is ons in die moeilikheid. Suid-Afrika het nie die vermoë om die instroming van buitelanders te kan hanteer nie.”

“Ons is moeg daarvoor om die regering aanhoudend te smeek om iets aan al die probleme te doen.

“Versoeke van besorgde burgers val op dooie ore,” het Trollip gesê.

“Alle rassegroepe in die land is kwaad vir mekaar en daar is geen versoening nie, omdat die regering en die opposisie wegkom met dit wat hulle kwytraak.”

“Ons kan nie ons kinders met ons eie probleme besmet nie en ons behoort nie te veel politieke partye te hê nie. Ons kort een opposisieparty wat vir alle Suid-Afrikaners staan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button