MunicipalNews

Vrae oor Bela-Bela se dienslewering

“Die huidige waterprobleme duur al langer as twee weke. Inwoners kla ook oor die onvoltooide waterpypinfrastruktuurprojek in die dorp en dat plaveisel nooit herstel word nie.”

Die Bela-Bela-munisipaliteit was die afgelope paar weke weer in die spervuur oor dienslewering.

Die munisipaliteit moes glo onder meer verlede week ’n privaat maatskappy van Johannesburg vra om ’n riooltrok beskikbaar te stel om ’n reuserioolprobleem in Potgieterstraat op te los, het Tinus Ras, DA-raadslid, aan Die Pos gesê.

Dit het gevolg nadat die munisipaliteit self twee weke lank gespook het om die rioolpype in dié omgewing te probeer skoon kry.

Dit het egter in ’n morsige spul ontaard toe toilette en mangate begin oorloop het weens ’n blokkasie en munisipale werkers die riool in die strate moes laat uitvloei, het Ras gesê.

“Ek het daarop aangedring dat hulle ’n riooltrok in die hande moes kry om genoeg drukking in die pype te blaas sodat die probleem opgelos kan word,” het Ras gesê. “Die werkers het eers met ’n handblaser probeer, maar dit het nie gewerk nie en daar-om is die trok uit Johannesburg laat kom.”

Dié hele oefening het die munisipaliteit sowat R90 000 gekos, maar die probleem, ’n stuk rots wat die blokkasie in die pype ver-oorsaak het, is opgespoor,” het Ras gesê.

Hy vermoed dat iemand die rots moeds-willig in ’n mangat gegooi het.

“Dit is niks meer as saakbeskadiging nie. Mense wat so iets sien of kennis daarvan dra, moet dit dadelik aanmeld,” het Ras gesê.

“Die munisipaliteit het tegniese spanne beskikbaar, maar hulle maak gereeld die verskoning dat daar geen onderdele of geld is om munisipale probleme op te los nie. Dit is ’n baie flou verskoning,” meen Ras.

Ras meen opgehoopte skuld en skuld wat nie ingevorder is nie, speel wel ’n rol, maar die feit dat munisipale bestuurders en raadslede weer vanjaar salarisverhoging gekry het, is onbillik teenoor inwoners. “Fondse vir instandhouding gaan hierdeur verlore,” het hy gesê.

“Die huidige waterprobleme in die Bospoort-omgewing duur al langer as twee weke. Baie inwoners kla ook oor die onvoltooide waterpypinfrastruktuurprojek in die dorp en dat plaveisel nooit herstel word nie,” het Ras gesê. “Ek het die amptenare reeds gewaarsku dat verdere stappe gaan volg indien hulle nie hul sokkies optrek nie.”

Inwoners word aangeraai om eers die munisipaliteit te bel by tel. (014) 736 8000 vir alle munisipale probleme. Indien die probleem nie aandag kry nie, kan inwoners vir Ras bel by tel. 082 650 1185.

  • Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê dat hy terugvoer oor die diensleweringsituasie sal verskaf, maar teen druktyd het Die Pos nog geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button