Local newsNews

Eskom dankbaar dat boere ‘hande vuil maak’

Die kragverskaffer het sy werkspanne uitgestuur om herstelwerk te doen, maar hulle was nie voorbereid op die modder nie en vier voertuie het vasgeval.

Die boere wat Eskom verlede week uit hul modderige dilemma gesleep het, het landwyd opslae gemaak en ’n dagblad het selfs die petalje in ’n spotprent verewig.

Hoë Eskomlyne is in die Witklip-omgewing tussen Modimolle en Alma beskadig nadat swaar reën op Sondag 13 Januarie uitgesak en groot gedeeltes van Vaalwater en omgewing was sonder elektrisiteit. Die kragverskaffer het sy werkspanne uitgestuur om herstelwerk te doen, maar hulle was nie voorbereid op die modder nie en vier voertuie het vasgeval.

Johann Abrie, op wie se plaas die voorval afgespeel het, het die hulp van boere in die omgewing ingeroep. Arno du Toit en Hector Mountany was van die boere wat met groot masjiene opgedaag en Eskom uit hul verknorsing gesleep het.

 

In dié spotprent, deur die bekende spotprenttekenaar Fred Mouton, vra ’n Eskom-werker met selfoon in die hand, aan ’n boer wat besig is om ’n vragmotor uit die modder te sleep: “Dis my baas … hy wil weet of julle boere nie ook ’n plan kan maak om Eskom uit die skuldmoeras te sleep nie?”

 

Eskom het hul dankbaarheid teenoor die Samaritane in khaki wyd bekend gemaak.

“Ek was verras toe ek ’n oproep van die hoof- operasionele beampte van Eskom, Jan Oberholzer, ontvang het om ons te bedank. Dit het ’n mens se hart sommer laat warm voel. Ek is bly ons kon bystand verleen,” het Abrie aan Die Pos gesê.

Die kragverskaffer het ook ’n bedanking op sy Facebookblad geplaas: “Die Eskom-span van Modimolle is baie dankbaar vir die hulp wat boere verleen het om ons voertuie uit die modder te sleep. Dit wys net dat ’n mens met goeie spanwerk enigiets kan verrig,” het hul boodskap gelui.

Related Articles

Back to top button