Local newsNews

Ongeluk op N1 eis drie lewens

Die Venters het met ’n minibus gery en al drie is met die geweldige impak van die botsing op slag dood.

Die gemeenskap van Mookgophong is in hartseer gedompel nadat ’n pa en sy twee kinders op Vrydag 4 Januarie in ’n botsing op die N1-snelweg net buite die dorp gesterf het.

Fanie Venter (52) en sy jongste seun, Hanno (11), en jongste dogter, Sezelle (8), het omstreeks 15:30 vanaf Mokopane in ’n suidelike rigting gereis en reg van voor teen ’n aankomende International-vragmotor gebots.

Die Venters het met ’n minibus gery en al drie is met die geweldige impak van die botsing op slag dood.

Die botsing het naby die Tobias-stasie, ongeveer 5 km buite die dorp, plaasgevind. Volgens die verkeersafdeling in Mookgophong het die vragmotor, wat aan ’n maatskappy in Harare, Zimbabwe behoort, sonder ’n vrag gery en was dit op pad na Polokwane.

Die Venters het nog twee ouer kinders, Stephan(20) en Zoanice (18). Volgens Beatrix Oosthuizen, die suster van Carina Venter (Fanie se vrou en die kinders se ma) is die familie opreg dankbaar teenoor elke persoon in die dorp wat op een of ander manier hul medelye betoon het met die onbeskryflike tragiese ongeluk.

“Bid asseblief vir die oorblywende lede van hierdie gesin; hulle uitdagings is baie groot,” het ’n persoon na aan die familie in ’n boodskap gesê. Die familie het ook versoek dat hulle privaatheid en groot smart gerespekteer word. Carina ly aan longkanker en is ernstig siek.

Die begrafnis vind op Vrydag 11 Januarie om 10:00 plaas. Die Venters is oorspronklik van Louis Trichardt en het die afgelope elf jaar in Mookgophong gewoon. Venter het die onderhoudswerk van waterfilters in Mookgophong en omgewing behartig.

Die polisie in Mookgophong ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

  • Die N1 hoofweg tussen Mokopane en Kranskop-tolhek het die afgelope paar maande meer as 40 mense se lewens geëis en staan alombekend as “Die pad van die dood”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button