Local newsNews

Reën laat Modimolle se damvlakke styg

“Ons is baie opgewonde daaroor dat die dam voller word. Dit staan nou op sowat 20%. Ons kan nog nie water daaruit pomp nie, maar ons is hoopvol dat nog reën binnekort sal val,” het sy gesê. Die dam was drie jaar gelede laas vol.

Broodnodige reën wat gedurende Desembermaand geval het, het die Bosveld van vaal na lowergroen omtower.

Dit het verligting vir boere en inwoners in die dorpe gebring.

Modimolle gaan reeds etlike maande lank gebuk onder watertekorte en inwoners moet genoeë neem daarmee dat beurtwater toegepas word sodat almal gedurende die week van water voorsien kan word. Daar kon sedert Oktober nie water vanuit die Donkerpoortdam, wat 40% van die dorp se water voorsien, gepomp word nie omdat dit bykans leeg was. Die goeie nuus is dat die afgelope maand se reën die damvlak laat styg het.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het die dam die afgelope week besoek.

“Ons is baie opgewonde daaroor dat die dam voller word. Dit staan nou op sowat 20%. Ons kan nog nie water daaruit pomp nie, maar ons is hoopvol dat nog reën binnekort sal val,” het sy gesê. Die dam was drie jaar gelede laas vol.

Volgens haar is die watervlakke hoër as wat dit verlede jaar dié tyd was. Die munisipaliteit kon vanaf 1 Mei tot einde September water vanuit die dam pomp om die watervoorraad wat hulle van Magalies Water en die munisipale boorgate verkry, aan te vul. “Ons sien ook dat ons boorgate meer water lewer,” het Van Staden gesê.

Goeie reën het op Maandag 31 Desember uitgesak en die dam se opvangsgebied het sowat 130 mm genadewater ontvang. Die dam se twee inlope van die Klein Nylrivier en van Hessie se Water, het albei ingeloop, het Van Staden gesê. Die damvlak het daarna tot op 16,5% gestyg.

’n Week later, op Sondag 6 Januarie, het die hemel se sluise weer oopgemaak en swaar reën het veral in die omgewing van Hessie se Water geval wat die inlope na die dam sterk laat vloei het. Die vlakke het daarna tot 20% gestyg.

Van Staden skryf die dorp se watertekort gedeeltelik daaraan toe dat die dorp se inwonertal waarskynlik heelwat hoër as die amptelike syfers is. “As ek met boere in die omgewing praat, is dit duidelik dat daar groot getalle uitlanders in die gebied werksaam is. Dié mense word egter nie ingereken in amptelike syfers nie en dit is daarom moeilik om te bepaal presies hoeveel mense in ons dorpe woon,” het sy gesê.

“Baie mense vra vir ons hoekom maak die munisipaliteit nie voorsiening om nog damme te bou nie. Ons sou graag wou, maar dit is nie ’n funksie van die munisipaliteit nie. Dit is in die hande van die nasionale departement van water en sanitasie. Daar is egter sedert 1994 nog geen nuwe damme in Limpopo gebou nie,” het Van Staden gesê.

  • Inwoners word gewaarsku dat daar steeds etlike krokodille in die dam is en die hengelaars en besoekers op hul hoede moet wees.

Related Articles

Back to top button