CrimeNews

Polisie ondersoek steeds jagter se skietdood

Botes is volgens drie keer in sy slaapkamer met ’n 9 mm pistool in die bolyf geskiet.

’n Maand ná die opspraakwekkende skietdood van ’n beroepsjagter op ’n luukse gholflandgoed buite Modimolle is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Die voorval waarin die 46-jarige Botes van der Merwe op Dinsdagnag 11 Desember noodlottig in sy huis op die Koro Creek-gholflandgoed geskiet is, ontlok in dié stadium meer vrae as antwoorde.

Botes het op die toneel aan sy wonde beswyk. Sy vrou, Chrisna (40), is per helikopter na ’n Pretoriase hospitaal vervoer met ’n ernstige skietwond in die maag. Sy is sedertdien ontslaan. Botes se oudste dogter, Celiné (21), en ’n vriendin was glo tydens die voorval buite die huis.

Die egpaar het vantevore op Vaalwater gewoon. Dit is albei se tweede huwelik.

Botes, die eienaar van Botes Hunting Safaris, is volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, drie keer in sy slaapkamer met ’n 9 mm pistool in die bolyf geskiet. Die polisie het op die toneel beslag gelê op twee 9 mm-pistole wat in Botes en Chrisna se name geregistreer is.

Daar is aanvanklik vermoed dat Botes ook in die kop geskiet is, maar die nadoodse ondersoek het volgens Findley getoon dat hy die wond opgedoen het toe hy geval het.

Volgens die gholflandgoed se bestuur was daar geen tekens van betreders nie.

Hoewel inwoners gis oor wat tydens die oënskynlike gesinstragedie gebeur het, sê Findlay dat die polisie nog geen verdagtes in die moordondersoek geïdentifiseer het nie.

“Ons wag vir die uitslae van die forensiese en ballistiese toetse voordat ons iemand in hegtenis neem,” het hy gesê. Die ondersoek duur voort.

Botes laat twee dogters, Celiné en Jane (18), agter.

Related Articles

Back to top button