NewsSchools

Limpopo-matriekuitslae swakste in land

“Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde en hoë uitvalsyfer is bloot te gebrekkig om leerders behoorlik voor te berei vir naskoolse opleiding en die arbeidsmark. Dit het ’n demper op die 2018-uitslae geplaas.”

Verlede jaar se matriekuitslae, wat op Vrydag 4 Januarie deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekend gemaak is, het getoon dat Limpopo die swakste presterende provinsie op akademiese gebied is.

Die landwye slaagsyfer vir 2018 is 78,2% wat ’n 3,1% styging is teenoor verlede jaar, het Motshekga gesê.

Nomsa Marchesi, die DA se skadu-minister van onderwys, het in ’n verklaring gesê die werklike slaagsyfer is eintlik 37,6%, omdat 45% van leerders wat in 2016 in gr.10 was, nooit die nasionale eksamen in 2018 afgelê het nie.

Sy het dit toegeskryf aan leerders wat vakke gedruip of wat skool verlaat het.

Motshekga het voorts gesê daar was ongeveer 800 000 matrieks wat landwyd vir die eindeksamen geregistreer het.

Gauteng was met 87,9% die provinsie met die hoogste slaagsyfer.

Limpopo het ’n slaagsyfer van 69,4% behaal, maar het wel ’n 3,8% styging getoon.

Maaria Ishmael Kgetjepe, LUR van onderwys in Limpopo, het tydens die bekendmaking van die provinsiale uitslae in Polokwane gesê 2018 se akademiese jaar het “nie so baie” onderbrekings soos in die verlede gehad nie en dat mense nou begryp dat hulle nie met leerders se toekoms moet speel nie.

Motshekga het gesê die departement is veral gekant teen gemeenskappe wat leerders uit skole gehaal het weens betogings.

Uit die 76 730 geregistreerde leerders in Limpopo het slegs 53 254 in 2018 geslaag, het Kgetjepe gesê.

Slegs 17 999 het gekwalifiseer om vir ’n graad te gaan studeer terwyl 18 892 vir ’n diploma en 16 350 vir ’n hoërsertifikaat kwalifiseer.

Die top drie distrikte in Limpopo was Vhembe-Oos (80,1% slaagsyfer), Vhembe-Wes (79,4%) en Waterberg 2 (73,2%).

Die skole wat ’n 100% slaagsyfer behaal het, was Hoërskool Frikkie Meyer (Thabazimbi), Waterberg High School (Mokopane), Edison Nesengeani Secondary School (Vhembe), Vhafamadi Secondary School (Vhembe), Hoërskool Eric Louw (Musina), John Mutheiwana Secondary School (Vhembe) en Frans Rasimphi Secondary School (Vhembe).

Geen van die tien distrikte het ’n slaagsyfer van laer as 60% opgelewer nie. Daar was altesame 364 skole in Limpopo wat onderpresteer het in vergelyking met die 705 skole in 2017, het hy gesê.

“’n Span amptenare is bymekaar geroep met die nodige ondersteuning om sukkelende skole reg te ruk. Ons verwag dat skole bo die nasionale norm van 65% moet presteer,” het Kgetjepe gesê.

“Klein skole is nie lewensvatbaar vir volhoubare onderrig nie, maar pogings van die departement om hierdie skole met ander saam te smelt, ontvang gewoonlik teenkanting.”

Kgetjepe het melding gemaak van drie skole — Senwane- (Ga Molokwena), Letshega-Malokwane- (noord van Mokopane) en Ramoroke Secondary School (oos van Marble Hall) waar geen van hulle gr.12-leerders in 2018 geslaag het nie.

Tammy Wessels, Vryheidsfront-plus jeugleier, het in ’n verklaring gesê ’n suksesvolle onderwysstelsel moet op gehalte onderwys fokus, eerder as op ’n goeie matriekslaagsyfer.

Volgens haar het slegs 55% van die leerders wat in 2007 in gr.1 was, die finale eksamen in 2018 geskryf.

“Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde en hoë uitvalsyfer is bloot te gebrekkig om leerders behoorlik voor te berei vir naskoolse opleiding en die arbeidsmark. Dit het ’n demper op die 2018-uitslae geplaas,” het sy gesê.

“Die werklikheid is dat die slaagsyfer teen die uitvalsyfer gemeet moet word. Slegs 35% van die leerders wat in 2007 met gr. 1 (1 141 731 leerders) begin het, het in 2018 matriek geslaag en slegs 37% van die leerders wat in 2016 in gr. 10 (1 067 075) was, het nou matriek geslaag.”

Die portefeuljekomitee oor basiese onderrig in die parlement het intussen die finale uitslae van die onderwysdepartement verwelkom.

Related Articles

Back to top button