Local newsNews

Oud-Warrie sterf in padongeluk

’n Jong man en oudinwoner van Bela-Bela, Conrad van Baalen (29), is op Dinsdag 8 Januarie in ’n motorongeluk op die R101-pad naby Maubane buite Pretoria oorlede.

Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, het by navraag gesê die ongeluk het teen ongeveer 09:00 die oggend plaasgevind toe ’n Iveco-trok reg van voor teen Van Baalen se Volkswagen-sedan gebots het.

Volgens ’n plasing op Facebook van Van Baalen se suster, Kolanie, was hy op pad na Modimolle waar sy pa woon.

Van Baalen is op die toneel oorlede en die trokdrywer het ernstige beserings opgedoen, het Moremi gesê. Die polisie ondersoek die saak verder.

Van Baalen was die seun van bekende oudinwoners van die Vlakte, Johann en Marie van Baalen. Marie is in 2013 aan motorneuronsiekte oorlede, het Die Pos destyds berig. Van Baalen het by Hoërskool Warmbad gematrikuleer waar sy ma tot 2012 ’n onderwyser was.

Hy het veral op die gholfbaan uitgeblink en was deel van die Limpopo provinsiale gholfspan. Hy het nou saam met professionele gholfspelers gewerk en was volgens inligting van die Limpopo-gholf-unie ’n gedugte teenstaander op die gholfbaan.

Die unie het sy afsterwe as ’n verlies beskryf en gesê hul gebede gaan uit na die familie.

Van Baalen se ander passie was om te vlieg en hy het homself as handelsvlieënier bekwaam.

Talle mense het sedertdien hul medelye met die familie op sosiale media betuig en Van Baalen as ’n ware vriend beskryf.

“Ek wil ook net ongelooflik baie dankie sê vir almal wat my en my pa gebel en boodskappe gestuur het. Ons waardeer alles so ongelooflik baie en het nie woorde nie. My ou klein boeta is nou saam met my ma,” het Kolanie gesê.

Teen druktyd was Van Baalen se begrafnisreëlings nog onbekend. Kolanie het gesê sy begrafnis sal na verwagting in Modimolle plaasvind.
Hy laat sy pa en suster agter.

Related Articles

Back to top button